Gedagte vir die dag | Sondag 1 Augustus 2021

Spreuke 15:15: “’n Neerslagtige soort mens kry elke dag swaar, maar vir ’n mens met ’n opgeruimde geaardheid, is die lewe ’n fees.”

Die digter John Buiteman, het in sy gedig oor die lot van ’n kerkmuis wat hom in ’n donker vergete kamertjie van ’n kerk in Engeland tuisgemaak het, geskryf. Die ou muis kla steen en been oor sy skamele voorraad saagsels asook die strooi en vloerpolitoer wat net een maal per jaar afgewissel word. Hy is ontvevrede oor die bietjie wat hy kry, terwyl daar ’n oorvloed van kos in die sogenaamde Herfsoesfees is.

Die ou kerkmuis se groot probleem was onwelkome besoekers. Hy kla oor twee ongedoopte veldmuise, en ’n ongelowige, groot onvriendelike rot wat gereeld kerk toe kom en sy kos steel. Dan sê hy verder in die gedig: “Die soort ding gebeur nie by mense nie”.  Hulle lees hulle Bybel en bid, en net soos hy, elke week in die kerk. Tog val dit hom op hoe vol die kerk soms kan wees met mense wat hy nog nooit gesien het nie, behalwe dan nou by die Herfsfees.

Ons is nou weer in ’n tyd waar toegang tot die kerk nie toegelaat was nie en vandag is dit weer die eerste keer wat ons ’n erediens met 50 persone kan aanbied.  Ons mis dit dat mense na die kerk toe stroom.  Ons weet nie wat die toekoms inhou nie, en hoe dit vorentoe sal werk nie.

Ongelukkig was dit in die verlede so dat ons kerk toe gegaan het, maar dat ons nie die waarde daarvan besef het nie. Dawid roep in sy bekende pelgrimslied, die bekende Psalm 122:1-2: “ek was bly toe hulle vir my gesê het kom ons gaan na die huis van die Here toe, en nou is ons hier binne in Jerusalem.”

Ek dink dit is baie kosbaar vir gelowiges om saam te kom, nie net op spesiale dae nie, maar in ons eie tradisie gaan ons nie op ’n Sondag sinagoge toe nie, ons gaan op Sondae kerk toe, omdat dit die dag is wat Jesus uit die dood opgestaan het. Die simboliek daarvan om op Sondae bymekaar te kom, is om te sê ons leef vanuit die opstanding van Jesus, en dan teen die agtergrond van die tradisie waaruit ons staan as ’n voorskrif om eer aan die Here te bring.

Dit is so mooi waar die swemmer Tatjana Schoenmaker die medalje gewen het, onderaan haar tweede keppie het sy geskryf, in haar lewe gaan dit om aan God die eer te bring, ek laat my nie definieer deur die prestasies of die Olimpiese spele nie, maar ek laat my denifinieer deur ’n  lewe tot eer van God te lei. En dit is wat ons elke Sondag doen.

Ons saamwees is nou op ’n ander manier, maar dit bly steeds ’n blye ontmoeting met God en met ons naaste. ’n Geleentheid waaruit elkeen nuwe moed en lewensvreugde kan put, om huis toe te gaan. Op die oomblik gaan ons dit nie in die kerk evaar nie, want ons kan nie bymekaar kom nie, maar daar is tog iets van die saamwees, as jy vandag na die erediens kyk wat ons aanlyn aanbied.

Gebed

Here, dankie dat U in ons midde is, en dankie dat ons uit u oorvloed nie uit ’n skamelike kosvoorraad hoef te leef nie, maar uit die oorvloed wat U vir ons gee, van ons liefde aan U.