Ons het saam met Callie onthou . . . en dié foto wat in 2000 geneem is, in die argief opgespoor. Die afgelope 21 jaar het jou besonder goed behandel, Callie, en ons vertrou die volgende 21 jaar saam met die aftrede sal ook sagkens met jou omgaan. Red.
Deur: Ds. Callie Visagie
Wanneer ’n mens terugkyk oor jare heen, help dit ook om vorentoe te kyk. Elie Wiesel, ’n Auschwitz-oorlewende, skryf in sy memoires hieroor:
- What does it mean to remember?
- It is to live in more than one world
- to prevent the past from fading and
- to call the future to illuminate it.
Dis tog wat ons as gelowiges, wat aan die gemeente verbind is, in dié dae doen. Vele verhale kan vertel word (en sommige van die staaltjies kan inderdaad verder in die publikasie gelees word) . . . verhale van hoop. Verhale van God se sorg en genade, asook van saambid en saamdoen. Verhale van geseënde uitreike en kampe is deel van die geloofsreis van vele. Jongmense wat die Here leer ken het en vandag letterlik tot in die verste buiteland die belewenisse en kennis wat hulle saam met die Stellenberg-gemeenskap opgedoen het, prakties uitleef.
Dit is wonderlik dat herinneringe ons help om nie die verlede te laat vervaag nie. Dit is wat die Bybelverhale ook doen. Dit vertel van God se handelinge in mense – gewone mense – se lewens. En hiervan raak die enkeles in hierdie publikasie nie eens die punt van die ysberg nie. Die Here was waarlik die afgelope 50 jaar aan die werk in die gemeente. Ons was bevoorreg genoeg om die keuse te kon uitoefen om nie af te stig in kleiner gemeentes nie, maar om die eerste sogenaamde makrogemeente in die Kaap te word. Die gemeente se toegang tot verskeie bronne en die kwaliteit van ons lidmate het ons in staat gestel om ’n besondere rol te speel in die noordelike voorstede van Kaapstad, maar ook in die uitgebreide NG Kerk-familie.
Die verlede dien as ’n helder aanwyser om die toekoms met hoop te betree. Ons word geïnspireer deur die verhale van hoe en waar God gewerk het . . . want Hy sal dit ook in die toekoms doen. Dit verg nie veel insig om te besef dat die kerk en breër geloofsgemeenskap in 2021 teen die agtergrond van ons globale omstandighede, maar ook met inagneming van die besondere uitdagings in ons land, voor unieke, nuwe uitdagings te staan sal kom nie.
Nuwe geleenthede wat ons moet aangryp, word geskep. Die uitleef van gemeentewees, die onderlinge verbondenheid aan mekaar, die inrigting van eredienste, sowel as van ander bedieninge, moet teen die agtergrond van veranderende samelewingspatrone vernuwend aangepak word. Wanneer ons terugkyk, is ons dankbaar dat Stellenberg-gemeente die genade ontvang het om altyd verantwoordelik te vernuwe en vorentoe te beweeg – kenmerkend van ons gereformeerde tradisie.
Mag Stellenberg oor nóg 50 jaar steeds met dankbaarheid terugkyk na wat was én met geloof voortgaan – die toekoms in, om oor alle grense heen uit te reik sodat ons as volgelinge van Christus steeds nader aan God en nader aan mekaar kan leef om ’n verskil in die wêreld te maak en voortdurend te vernuwe.