Gedagte vir die dag | Sondag 25 Julie 2021

Prediker 3:1.  Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:

Tyd is darem ’n snaakse ding.  As jy jonk is voel dit mos of tyd baie stadig verby gaan.  Dan neem dit lank voordat jy verjaar en ’n mens moet baie slapies aftel voordat dit weer Kersfees is.  Dit is lank voordat jy skool toe gaan en lank voordat jy skool klaar maak.  Jy wens die tyd om.  Maar soos ’n mens ouer word, verander jou begrip van tyd.  Ek dink tyd raak al hoe meer kosbaar hoe ouer jy word.

Tyd speel ’n groot rol in ons lewens. Dink net hoeveel woorde, sinne en gedagtes het in jou lewe met tyd te doen:

  • Hoe laat is dit?
  • Maak vir my tyd.
  • Iets is tydloos.
  • Ek gaan laat wees.
  • Jy is betyds.
  • Hoe lank gaan dit neem?
  • Jou tydsberekening is sleg.
  • Môre bring sy eie bekommernisse…

Die Prediker het ’n bepaalde idee oor tyd en ’n bepaalde siening oor die lewe en die sin van die lewe gehad.  Sy slotsom was dat alles ’n bepaalde tyd het.

Hoe ek dus my tyd benut is nogal belangrik.  Maak tyd vir dit wat noodsaaklik is.  Ek en jy het net soveel geleende tyd hier op aarde en ek is nie so seker of ons genoeg nadink oor die vraag, hoe jy jou tyd hier gebruik nie?  Ons sal almal kla dat ons te min tyd het, en dat tyd te vinnig verby gaan.  Ons sal almal met spyt terug dink – ja miskien moes ek meer tyd hieraan spandeer het en minder aan iets anders.  Daarom moet ’n mens die tyd wat die Here aan jou leen met wysheid benut.

GEBED

Here ek het net soveel tyd. Help my om dit sinvol te gebuik tot die eer van u Naam.

AMEN