Ons gaan vanoggend bietjie die orde omkeer. Voordat ek die teksgedeelte lees, net eers ’n opmerking. Ek wil ’n bietjie afwyk van ons normale patroon, deur ’n kort teksvers met jou te deel, en om dan iets daaroor te deel. Vandag wil ek eers met jou iets deel, en dan toelaat dat hierdie ongelooflike teks Sefanja 3 self met jou praat. Ons is hierdie week besig met vreugde en blydskap, en hoe groot ’n realiteit hierdie gawe van God se Gees in ons lewe is. En of ons dalk van hierdie grootste bate in ons Christelike lewe beroor word.
Een van die gedeeltes in die Bybel wat my die meeste tref, is die laaste klompie verse van Sefanja. Gister het ons uit die vorige boek, Habakuk, gelees en drie woorde gesien wat uitgestaan het: “Nogtans, jubel en juig.” In die volgende boek, volg ’n volgende profeet dieselfde patroon. Hulle kyk na die tragiese omstandighede van mense wat vreugde en blydskap ervaar. Dan, op ’n wonderlike manier, evalueer hulle hul vreugde, omskryf waar hul eie vreugde vandaan kom en dan ook die verrassende insluiting van God, wat self ook vreugde en blydskap ervaar: Oor ons! Ongelooflik!.
Ek lees net hierdie verse, luister daarna en mag God julle seën:
Sefanja 3:16: “Daardie dag sal daar vir Jerusalem gesê word: Moenie bang wees nie, Sion, moenie jou hande moedeloos laat hang nie.” Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou: Ek maak dié bymekaar wat treur, ver van die feestelikheid af, dié wat uit jou uit kom en ter wille van jou die smaad gedra het, Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het, Ek gaan die kreupeles help, die verstrooides bymekaarmaak en die vernedering wat hulle moes ondergaan, in eer verander, in roem oor die hele aarde.”
Gebed
Here, dankie vir hierdie wonderlike wete, dat U self die mosie van blydskap en jubel ervaar as U aan my en ons dink.
Amen