Onder leiding van die bekwame kommunikasiekommissie bestaande uit lede soos Herman Engelbrecht, Koos Lamont en Sanet Hattingh, is die gemeente se logo in 2001 ontwerp en onmiddellik op alle amptelike kommunikasie in gebruik geneem.
Die sirkel in die logo simboliseer die aarde en die kruis staan sentraal in die ontwerp, soos dit ook die middelpunt van ons geloof vorm. Die kruis breek ook deur die grense van die sirkel wat ons visie: Reik uit oor alle grense, simboliseer. Die twee knielende figure simboliseer enersyds uitreik na mekaar en gesprekvoering; en andersyds gebed.
Later in 2001 het Stellenberg-gemeente ook onder leiding van Koos Lamont die kuberruimte betree en ‘n webwerf vir die gemeente is geskep. Stellenbergers is altyd bereid om vernuwend te dink en www.stellenberg.co.za is vandag steeds een van die gemeente se gewildste kommunikasieplatforms – veral nou in die lig van die huidige Covid-19-inperkingsmaatreëls.