Gedagte vir die dag | Vrydag 16 Julie 2021

Handelinge 16:25: “Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing.  Die ander gevangenes het na hulle geluister.

Ons het gister verwys na Paulus in die tronk, waar hy skryf aan die gemeentelede in Filippi, en waar sy vreugde telkens baie sigbaar is.  In die teksgedeelte wat ons vandag gelees het, tref ons vir Paulus aan in die tronk in Filippi. Gaan lees gerus hierdie gedeelte en sien onder watter haaglike omstandighede Paulus en Silas hulself bevind het.  Hulle is gevange geneem, en met boeie gebind, hulle is in die buitenste sel opgesluit, en hul voete op ’n houtblok vasgeklem.

Vir seker nie ’n lekker posisie nie en nie ’n goeie vooruitsig vir hulle op daardie stadium nie.  Dinge het beslis baie, baie donker gelyk.

En hulle verstommende reaksie hierop? Iets wat eintlik ons verstand te bowe gaan, dat dit wel kon gebeur.  Hy en Silas sit en sing!  Wat sing hulle?  Die weemoedige gevangenisliedjies van wanhoop en desperaatheid?  Nee, hier staan baie duidelik: “hulle is besig om tot lof van God te sing”.  En wie kan tot lof van God sing?  Alleen hy wat vreugde, vrede, in die hart het en wat die nabye teenwoordigheid van God in sy situasie ervaar.

Weereens ‘n goeie aanmoediging vir ons, om midde ons omstandighede, wel nog steeds met harte vol dankbaarheid en lof te leef.  Jare terug was daar ’n boekie: “From prison to praise” Ek het dit gelees toe ek ’n jong seun was en was beïndruk met die feit dat al is jy in jou donkerste en moeilikste tyd van jou lewe, jy steeds lof kan sing omdat jy dit in jou hart ervaar.

Gebed

Dankie Here, dat toe Paulus en Silas tot lof van U gesing het, ander mense geluister het. Gee tog dat ander mense rondom my, ook sal sien hoe dat ek bly en vol vreugde is, te midde van moeilike omstandighede. Amen