Gedagte vir die dag | Donderdag 15 Julie 2021

Filippense 4:4-7: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Ons het gister begin gesels oor die wonderlike voorreg wat ’n kind van God het om in vreugde en blydskap te kan lewe.  Ons het toe van Petrus gelees wat in die tronk, ongeag die donker wolke van gevangenisskap om hom, uitbundig hierdie brief kon skryf om sy vreugde en liefde op verskillende vlakke uit te druk.  Ons is aangemoedig as volgelinge van Jesus Christus, net soos die gemeentelede in Filippi destyds, om ons te verbly in die Here, onder alle omstandighede.

In die teksvers, wat ons vanoggend verder gelees het, sien ons waarin lê hierdie vreugde werklik, wat die bron hiervan is.   Baie duidelik stel Paulus dit – dat ons bly moet wees omdat die Here naby is! Ons moet ons lewe in die teenwoordigheid van die Here en omdat Hy saam met ons in hierdie donker tyd van byvoorbeeld die Covid-19-pandemie is, moet steeds  nie besorg wees nie!  Ons moet eerder alles in gebed, smeking en danksegging aan God bekend maak. Dis is die oplossing!  As ons dit so doen, deur al ons sorge en bekommernis op Hom te laai, sal ons hierdie vreugde, hierdie absolute blydskap ervaar, omdat ons ontdek hoe ons getroue, nabye Hemelse Vader vir ons sorg. Die uitkoms hiervan is dat die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, ons harte en gedagtes in Christus Jesus sal oppas.

Dink vandag aan die vlakke van jou vreugde en jou blydskap.  Omdat jy ’n kind van God is, kan jy verseker wees van Sy teenwoordigheid  . . . dat Hy baie naby aan jou is.  Sy teenwoordigheid wat ook sy vrede meebring, en dat dit sal jou lei tot ’n ware dankbare, vreugdevolle lewe.

Gebed

Here, dankie dat U baie naby aan my is, ook in my heel donkerste tye van my lewe.  Dankie dat ek daarin my vreugde en blydskap kan vind.

Amen.