Gedagte vir die dag | Dinsdag 29 Junie 2021

Kolossense 1:27.  “God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.”

Goeie nuus is iets wat ons elkeen baie opgewonde en bly maak. Die opwindende deel daarvan is altyd om dit met iemand te kan deel. Daarsonder verloor die impak van die nuus trefkrag en word ’n mens van die viering daarvan saam met ander ontneem. Hoe raak die goeie nuus, wat Paulus in vandag se teks met ons deel, jou lewe? Dit is wonderlik om net weer te kan hoor dat Christus in my is en my van binne inspireer tot iets groter.  Maar die gedeelte wat ’n mens diep tref is dat God met dieselfde sorg teenoor alle mense optree. Ja, ook die wat nie glo nie. Die rasionaal daaragter is aan die een kant vir ons ingewikkeld om te verstaan. Paulus verwys daarna as ’n geheimenis.  Aan die ander kant is dit eenvoudig en tasbaar: Dit is die ervaring van God se liefde wat ons lewenspaaie kruis. Moenie dat hierdie goeie nuus vandag waar jy tussen soveel verskillende mense leef, by jou verby gaan nie.

Gebed

Here, ons kom in hierdie dag diep onder die indruk van U goedheid vir alle mense. Dit is ’n wonderlike boodskap om te deel en waaroor ons verstom staan, omdat die grensloosheid van u liefde en genade te groot is vir ons begrip en verstand. Here ons glo egter dat dit ons wêreld kan verander. Hierin staan ons nie terug in die hoop om wonderwerke voor ons te sien gebeur nie. Help ons om die goeie nuus met ander mense te deel. Daar is soveel maniere om hierdie boodskap te deel – wys ons hoe.

AMEN.