Gedagte vir die dag | Maandag 28 Junie 2021

2 Korintiërs 5:17. “Iemand wat aan Christus behoort is ’n nuwe mens. Die oue is verby en die nuwe het gekom.”

Iewers in die lewe kom ’n mens tot die skok besef dat jy oud geword het. Die soepelheid van ‘n jong lyf verdwyn oornag en die energie wat jy eens gehad het is skielik ook minder. Ek onthou so goed die verontwaardiging van ’n oud kollega hieroor. “Hoe is dit dat die hare op jou kop al hoe minder word, maar die in jou ore al meer?” het hy dikwels verontwaardig gevra. Paulus het tot die insig gekom dat alhoewel sy liggaam agteruitgaan, die Here deur dieselfde proses van oudword besig is om hom daagliks te vernuwe.  Alhoewel skete, foute en tragedie ons lewenspad kruis en ons dikwels met letsels laat, leef ons in die sekerheid dat niks ons kan roof van die vernuwing wat die Here oor jare in ons bewerk het nie. Anders gestel ons leef met die sekerheid dat ons met verouderde liggame nuwe mense is.

Gebed

Here, ons word gedurig deur die lewe uitgedaag en herinner dat ons kleipotte is wat maklik deur die lewe en omstandighede gebreek word. Die wonder is juis dat ons elkeen in hierdie broosheid ondervind hoe sterk U krag werklik in ons werk. Dankie dat ons ten spyte van alles wat ons aan ons lywe voel en in ons gedagtes bedink heel mense is. Dankie vir die stuk nuwe lewe wat na ons toe kom en ons sterk maak juis wanneer ons swak voorkom.

AMEN