Matteus 5:23-24. “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring dan jou gawe.”
Ek het gewonder of dit hoegenaamd eers nodig is om vandag iets meer oor die teks te sê as: “Maak waar jy kan, reg met mense om jou.” Die radikale gedeelte van die teks is dat al is jy nie noodwendig die een wat fouteer het nie, word ’n mens aangemoedig om die eerste stap te neem. Die Here praat hier met ons oor die sensitiwiteit wat die Heilige Gees aan ons bied om ander mense se onrus raak te sien. Maar dit gaan nie maklik gebeur as jy onder die indruk leef dat hierdie nie jou probleem is nie. Die Here bring ons vandag tot die besef hoe kragtig vergifnis en versoening is. Waag daarom om met hierdie eerlikheid en sensitiwiteit teenoor mense om jou op te tree. Alhoewel dit nie noodwendig jou skuld is nie, kan hierdie gebaar nuwe lewe vir jou en ander bring.
Gebed
Here, ek is dikwels net te moeg of te gejaag om na daardie stem in my siel te luister wat uitroep om net vir ’n oomblik by mense om my stil te staan en te vra: “Wat is verkeerd, of is daar iets wat ek gedoen het wat jou kwaad of hartseer gemaak het? Hoe kan ek jou help?”. Bewaar my Here van my eie fyngevoeligheid wat myself wil beskerm en my weerhou om hierdie wonderlike woorde te spreek. Help my vandag om met ’n ligte hart tussen mense in te stap in die wete dat die groot krag van U vergifnis my en die persoon met wie ek hierdie gesprek voer omring.
AMEN