Genesis 12:2. “Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees.“
Ek vermy dit al lank, maar moes onlangs die som maak om te bepaal of my pensioenfonds voldoende voorsiening vir my aftrede sal bied. Terwyl ek besig is daarmee maal die bekommernisse van soveel dinge wat nog kan skeef loop en my planne omver kan gooi, deur my kop. Gaan ek genoeg hê vir die dag wat kom? Vandag se teks kom krap ons aftreeplanne deurmekaar en hersien die toekoms scenario’s wat ons skep. Die Here het Abraham geseën, nie om eendag nie, maar vandag tot seën van ander te wees. Met sy afsterwe het Abraham net die stukkie grond besit waarop hy begrawe is. Maar hy het tot en met sy dood ’n ryk en vol lewe geniet. Ons kan die belofte van die Here se seën as ’n beloning (pensioen of ’n groot enkelbedrag) wat iewers vorentoe gaan uitbetaal om ons by ’n plek van vrede en sekuriteit te bring, sien. Ontdek deur Abraham se verhaal die belofte van God se seën vir jou vandag. Hoe is die Here se Gees prakties besig om met hierdie seën in jou te werk? Hoe kan jy vandag met die middele en gawes tot jou beskikking, of in die posisie waar jy jouself bevind, tot seën wees? Leef vandag met spontanïteit oor wat God jou reeds gegee het.
Gebed
Here, in vandag se tye is ons altyd bewus daarvan dat ons spaarsamig moet omgaan met ons geld en hulpbronne, sodat daar iewers vorentoe vir ons genoeg mag wees. Maar U genade en seën werk anders. Maak my oë oop vir dit wat U my reeds gegee het en laat die spontanïteit daarvan nou reeds oorvloedig uit my vloei. Ek het soveel om vandag met mense te deel. Dit is vir my skrikwekkend om te besef hoe hierdie eenvoudige gebaar vandag soveel mense om my se lewens kan verander. Dankie Here vir hierdie oorvloed wat ek mag beleef.
Amen.