Gedagte vir die dag | Maandag 21 Junie 2021

Spreuke 11:1. “Die Here het ’n afsku van ’n skaal wat nie reg weeg nie; net die regte gewig dra sy goedkeuring weg.”

Ek was verlede week betrokke in ’n gesprek met iemand, wat ’n ondersoek vir die Zondo-kommissie gedoen het. Hy was voorheen in die polisie en het ’n ondersoek eenheid op die been gebring. Die Zondo-kommissie se werk het tot ’n einde gekom, en na my gesprek met hom, het ek ’n gedeelte wat ek al voorheen opgelees het, nagegaan. Arnold Toynbee, bekende geskiedskrywer sê: “Altesaam 19 van die afgelope 21 beskawings in die wêreld, het nie deur magte van buite tot ’n val gekom nie, maar is vernietig deur morele en geestelike agteruitgang.”  Miskien is een van die treffendste bewyse in die verband die opkoms en val van die Romeinse Ryk.

’n Mens kan nie help om vandag in ongeloof jou kop te skud, as jy in Italië sien, wat van hierdie eens ongelooflike Romeinse Ryk geword het nie.

Ons dink ook aan die geskiedenis van die Normandiërs, wat as Noormanne in die tiende eeu hulself aan die weskus van Frankryk gevestig het. Hulle het spoedig ’n gedugte volk geword en het talle skole en katedrale opgerig, ridderorders gevestig en as leiers van die Pelgrimstogte opgetree. Die Engelse en Franse het gebewe wanneer hulle van die Normandiese soldate gepraat het.  Maar binne twee eeue het die Normandiërs van die aarde verdwyn deur die afskaling van geestelike en morele waardes.

Dan wonder ’n mens wat is die toekoms van ons land? Wat is die toekoms van mense met goeie waardes soos gelowige Christene en Moslem gelowiges? ’n Mens wonder of ons land vervalle geraak het, vasgevang in neputisme, korrupsie, swak dienslewering ensovoorts.

’n Mens hoef nie noodwendig swartgallig te wees, wanneer ’n mens Spreuke 11 lees nie. Die Engelse joernalis, Malcom Muggeridge, het terreg geskryf: “geloof, verdoof die lig van die Evangelie, en daar bly ’n duisternis oor.”  Daarom moet ons eerder saamwerk met ander gelowiges en groepe in hierdie land sodat goeie waardes beskerm word. Nie net die Bybel nie, maar ook die wêreldgeskiedenis leer ons oor oorlewing, gehaltediens en beginselvastyd.

Onthou Toynbee se 19 beskawings wat tot nuut gegaan het. Onthou die Romeine en die Normandiërs, as ons daarom mag vra: en wat nou? Dan moet ons die daad by die woord voeg en hou by wat in Hebreurs 4:14 staan: “Laat ons vashou aan die geloof wat ons begelei, en laat die toekoms aan die Here oor.”

Gebed

Here gee dat ons sal hou daarby om reg te weeg, om vas te hou aan die waardes en beginsels van die evangelie.

Amen.