Psalm 139: “Here, u sien dwarsdeur my. U ken my, of ek sit en of ek opstaan, u weet dit. U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Of ek reis, en of ek oorbly, U bepaal dit. U is met al my paaie goed bekend, daar is nog nie ’n woord op my tong, of U Here, weet wat dit gaan wees. U omsluit my van alle kante, U neem my in besit, die wete oorweldig my. Dit is te hoog vir my begrip, waarheen sou ek gaan om u gees te ontvlug, waarheen sou ek vlug om u teenwoordigheid te ontkom. Klim ek op na die hemel is U daar, gaan lê ek in die doderyk is U ook daar.”
Gedagte
Ek het ’n bietjie oor ons afhanklikheid van God nagedink. Het ons God nog soos vroeër nodig? Die wetenskap het vir ons groot seën gebring. Ons beleef dit ook in die eerste plek met die Covid-inenting wat op die mark gebring is en die ongelooflike navorsing wat die afgelope jaar gedoen was om die mensdom te beskerm. Vir probleme waarmee ons vroeër na God toe gegaan het, is daar nou meestal die een of ander spesialis beskikbaar. Vroeër sou mense vir baie dinge na die dominee toe gegaan het, maar nou is daar ’n rits kundiges wat ’n mens kan help om probleme op te los. Voorheen het ons vir reën gebid, nou maak ons dit bykans self, want ons weet presies wanneer dit gaan reën. Vroeër het ons vir genesing gebid, maar nou besoek ons liewer ’n dokter.
Gebed
Ek het u nodig, Here, want as U nie die huis bou nie, werk die wat daaraan bou tevergeefs. En as U die stad nie bewaak nie, waak die wagters tevergeefs – die Psalmdigter sê dit so mooi in Psalm 127. Ek wil U dank vir die insig wat U vir ons gegee het. Vir die verstand wat ons het om u skepping te kan begryp. Al speel ons maar net langs die strand met ’n paar klippies en kennis.
Ek wil bid dat u koninkryk nog sterker sal deurbreek in laboratoriums, spreekkamers en navorsingsplekke sodat die wêreld onder u leiding ’n beter plek kan word. ’n Plek met minder lyding, en veel meer vreugde sodat die wêreld al hoe meer kan begin lyk na die bruilofsmaaltyd met vrolike gaste. Want ons weet Here, of ek sit en of ek opstaan, U weet dit. U ken die mens se gedagtes, nog voor dit by ons opkom, waar ons ookal reis, want U bepaal dit. U is met ons paaie goed bekend. Here bewaar my dat ek nie sal dink dat ek U met lugversorging, pille, masjiene of slim antwoorde kan vervang nie. Hou my dig by U terwyl U my hande gebruik, om die bruilofsmaaltyd voor te berei. Dan sal ek U nie kan vergeet nie.
Amen.