Gedagte vir die dag | Woensdag 16 Junie 2021

Dis vandag, Jeugdag en ’n openbare vakansiedag in ons land. Ek hoop dat jy wat elke dag voltyds werk  vanoggend ’n bietjie later kon slaap.  Die hele Covid-19-pandemie het ouers met skoolgaande kinders voor baie uitdagings geplaas. Vandag gaan ons nadink oor jonk wees en die jeug.

Daar is altyd sekere teksverse wat ’n mens uit jou kop kan onthou. Ek onthou die jare wat ons nog gepraat het van Sondagskool, deesdae word daarna verwys as kategese. Kategese word gevorm van katagismes, maar ek dink baie van julle het herinneringe daarvan dat wanneer ons in ons jonger dae tekste geleer het, moes ’n mens dit uit jou kop uit geleer het.

Ek het vanoggend nagedink oor hoe ons as kinders daar in Calvinia, waar ek grootgeword het, kerk toe gestap het na die Hantam-gemeente. Ons het so drie-drie in ’n ry gestap en het voor die Sondagskool begin het die teksverse oor en oor uit ons koppe uit geleer.  Ek onthou ook een naweek op die plaas toe my pa vir my gesê het ek moet Dinsdag by die kinderkrans die teksvers waarvoor ek die liefste is, opsê.

Ek lees vandag uit my ma, Susan Visagie, se Bybel die volgende teksvers.  Prediker 12:1: “Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: ‘Ek het daar niks aan nie’.”

Dit is ’n ongelooflike voorreg om die Here in jou jong dae te leer ken.  Hopelik kyk jy ook terug na ’n tyd waar jy met die Here ’n intense belewenis, of ervaring gehad het.  Ook van saamwees met ander mense, groepe, of tydens jeugkampe en dat jy ’n goeie en gesonde reis in jou jongdae saam met die Here beleef het.

Ek wil vra dat ons vanoggend saam sal bid vir elke ouer.  Dat hulle wysheid, oordeel en insig sal ontvang sodat hulle die regte besluite kan neem.
Dan ook in besonder vir alle onderwysers, wat te midde van ’n baie uitdagende tyd en besondere eise hulle werk moet doen. Ons wil julle hande hoog hou, vir die rol wat julle speel.  Aan elkeen van julle wat ’n rol in jongmense se lewens speel wil ons sê dat julle nie moet moed verloor nie.  Julle speel ’n belangrike rol in kinders se lewens, omdat julle eie waardes aan kinders afsmeer.

Ons moet ook in die besonder bid vir jong mense wat in die vuurlinie staan binne ’n geweldige uitdagende tyd. Ons gebed is dat hulle staande sal bly, dat hulle iets sal verstaan van wat dit beteken om die Here te ken, en gestalte te gee daaraan – ook in hul alledaagse lewens.

Gebed

Here, dankie dat ons bevoorreg kan wees om U te kon leer ken in ons jong dae. Ons wil in die besonder vir ouers, onderwysers, en ook spesifiek vir die jong mense, tieners en kinders bid – hou hulle vas, Here. Dankie dat ons elkeen kleinkinders of iemand wat ons goed ken, aan u kan opdra. Gee dat kinders U sal leer ken deur die voorbeeld wat oupas,oumas, ouers en onderwysers aan hulle stel.

Amen.