Gedagte vir die dag | Sondag 13 Junie 2021

Spreuke 29:18.  “Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ’n volk; dit gaan goed met elkeen wat die wet van die Here onderhou.”

Wat verwag God van jou in sy wet soos Hy dit in die Tien Gebooie uiteen gesit het? Hoe sal jy dit opsom? Is die wet steeds geldig? Hoe hou die wet verband met die genade van die evangelie?

Die voorskrifte van die wet verskaf ’n netwerk van vertikale en horisontale riglyne wat oorvloed in die lewe moontlik maak. ’n Wetsgeleerde het Jesus gevra: “Leermeester, wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?” Jesus se antwoord was: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en belangrikste opdrag.” Dit som die eerste vier gebooie van die Tien Gebooie op.  Jesus sê toe: “Die tweede, ewe belangrike opdrag is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Dit neem die laaste ses gebooie saam. Jesus som dit só op: “Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”

Ware gehoorsaamheid – die soort wat meer is as die van die skrifgeleerdes en die fariseërs – bly nie by die letter van die wet nie, maar grawe tot by die diepe bedoeling van die wet. Dit is liefde. Die wet is dus nie ’n swaar las wat ek saam met my moet dra nie. Dit is eerder om in liefde te leef. Liefde vir God en liefde vir ons naaste.

 GEBED

Laat Heer U vrede deur my vloei

Waar haat is laat ek weer U liefde bring

Laat ek in pyn en smart vertroostend wees

en krag gee deur geloof in U o Heer

O Heer help my om altyd so te leef.

Om ander hoer as myself te ag

Ja om lief te he ander bo myself

En ook eerder te gee as te verwag

AMEN