Gedagte vir die dag | Donderdag 10 Junie 2021

Daniel 1:8.  “Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie en hy het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie.”

Daniel het nie toegelaat dat die versoekings van die tyd waarin hy geleef het sy verhouding met die Here beïnvloed nie. Hy het geweet om heilig voor God te lewe, beteken dat hy in alles teenoor God gehoorsaam moet wees. Ongeag wat die magtigste koning in die wereld beveel het, het Daniel geweier om af te wyk van God se plan vir sy lewe.

Vriende, ons almal weet dat ons elke dag teen ons sondige natuur en versoekings moet stry. Die versoekinge raak ook nie minder soos ’n mens ouer raak nie.  Dit bly maar altyd daar.  Ons word daagliks met ’n hele paar versoekings gekonfronteer. Hoe hanteer jy dit?

Weet jy dat Jakobus een keer gekrywe het: “Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.”  Jy kan presies doen wat Daniël gedoen het. Jy kan “nee”, sê en kies om God se pad te loop, en jou lewensdoel te beantwoord. Jy kan dit weliswaar nie alleen doen nie. God is deur sy Gees in jou. Hy help jou kies en help jou vas staan in jou oortuigings. Naby aan die Here, is jy veilig. Daar kan jy aan jou lewensdoel voldoen, en ’n gelukkige, mens wees.

GEBED

Here help my sterk staan teen versoekings. Ek wil so graag gehoorsaam aan U wees.

Amen