Gedagte vir die dag | Woensdag 9 Junie 2021

Johannes 21:15.Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.”  Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.”

Petrus het Jesus erg teleurgestel toe hy Jesus verraai het en gesê het dat hy hom nie ken nie. Hy het in die openbaar ontken dat hy Jesus enigsins ken. Jesus het ’n wonderlike manier om ons weer terug te ontvang al het ons Hom teleurgestel. Jesus verneder ons nie en kritiseer nie. Hy neem wel vir Petrus eenkant toe en vra dat hy weer sy liefde aan Hom sal erken.

Miskien is jy ook bewus daarvan dat jy die Here Jesus al op verskeie maniere teleurgestel het. Miskien was jy nie getrou nie, of was jy ongehoorsaam.  Miskien het jy Jesus deur jou leefwyse verloën.  Deur die genade van die Here Jesus sal die Here ons ook nie verneder wanneer ons self skuldig voor Hom staan nie. Hy neem jou vandag ook eenkant toe en vra: “Het jy my waarlik lief?” As jy Hom lief het sal jy Hom gehoorsaam.

GEBED

Here U weet alles van my af. U weet dat ek U lief het. Help my om U te gehoorsaam elke oomblik van elke dag. Amen