Gedagte vir die dag | Saterdag 5 Junie 2021

Spreuke 3:1-2.  “My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie, hou vas aan wat ek jou voorskryf, want dit sal vir jou ‘n lang lewe verseker, dit sal maak dat jy ‘n vol lewe het”.

Saai saadjies van insig . . .

Ja, dis weer storietyd!

In die vroeë jare het daar ’n baie ryk Sultan in Baghdad gewoon. Toe daar vir hom ’n seun gebore word, het hy ’n groot feesmaal gehou.  Al die mense uit die adelstand het dit bygewoon, en die duurste geskenke vir die prinsie saamgebring.  Een wyse ou man het ook by die fees opgedaag, maar sonder ’n geskenk. Toe hy opmerk dat die Sultan hom vraend aankyk, verduidelik hy: “U majesteit, die prins ontvang vandag baie kosbare geskenke.  Ek kon nie een bekostig nie. Maar my geskenk is dalk die kosbaarste . . . Ek belowe om, wanneer die prins eendag groot is, elke dag na die paleis toe te kom en vir hom stories te kom vertel. Die verhale van ons volk se helde, en van die wyses, en die goeies van alle lande.  Vandat hy kan verstaan, totdat hy ’n volwasse man is, sal ek aanhou om vir hom stories te vertel.  As hy dan eendag oor ons regeer, kan u seker wees dat hy wys, eerlik en opreg en regverdig sal wees. Mens leer uit ander se verhale.”

Die ou man het sy woord gehou. Jaar na jaar het hy die prins se verbeelding vasgegryp met sy verhale uit die geskiedenis asook sy stories en sprokies. Teen die tyd dat die prins Sultan geword het, was sy karakter gevorm deur die morele waardes gebaseer op die ou man se verhale. Lank na die storieverteller se dood, was die jong Sultan steeds bekend vir sy wysheid en geregtigheid. In Baghdad is daar vandag nog ’n monument vir die Sultan, met die inskripsie: “Sy insig en goedheid was die gevolg van die saadjies wat die wyse ou man met sy woorde in hom gesaai het.”

Gebed

Here, gee dat ons nooit sal vergeet wat ander vir ons geleer het nie. Dankie veral vir die verhale wat oupa, ouma, mamma en pappa en dalk ander, vir my van kleins af vertel het. Dankie dat dit steeds ’n invloed op my lewe het.

Amen