Matteus 13:34-35: “Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder ‘n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie. So moes vervul word wat die Here deur ‘n profeet gesê het: “Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat; Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af.”
Dis storietyd! Dis storietyd!
Sjoe, elkeen van ons het seker die beste herinneringe oor storietye. Of dit nou op TV, of ’n kinderprogram op die radio was (in my tyd was stories deel van die Siembamba-program) of as oupa sê: “Dis storietyd!” Dink byvoorbeeld na oor die mooiste stories wat jyself al gehoor het, en jy sal met my saamstem dat stories die wêreld ’n mooier plek maak.
Dit is so wonderlik om te weet en te sien dat die Bybel ook vol stories is – waar stories en stories wat die lesers leer. Ons groot leermeester, Jesus Christus, het self mense geleer en verduidelik wat die koninkryk van God is, deur stories te vertel. In ons teksvers staan dit dat Hy deur gelykenisse, wat ’n vorm van ’n storie is, mense geleer het.
Gedurende die volgende paar dae wil ons, met hierdie dagstukkies, by ’n paar stories stilstaan en kyk wat ons ook daaruit kan leer. Hiervoor het ek ’n boek op my rak nader getrek, “Stories vir die lewe”, wat saamgestel is deur verskillende storievertellers. Sommer vroeg in die boek, verduidelik hulle die waarde van stories, en ek haal so paar van die aanhalings aan:
“Daar sit meer helende krag in een verhaal, as in ’n rak vol dogmatiese werke” – Ferdinand Deist.
“Die Bybel teologiseer nie oor die groot geloofswaarhede nie, dit vertel bloot die storie van God se dade en God se mense” – John C Vincent
“’n Storie is soos die wind, dit kom van ‘n ver plek af, en ons kan dit nie sien nie, maar ons voel dit” – Laurens van der Post
“In tydlose stories, herken ons onsself beter as in ’n spieël” – Paul Theroux
Daar word ook vertel dat iemand vir Albert Einstein gevra het wat ’n mens kan doen om jou kinders slim te maak. Sy antwoord: “Lees vir hulle ’n storie”. “En dan?” volg die verbasende vraag. “Lees vir hulle nog een” – Albert Einstein
Mag die paar stories hierdie week, vir ons by die punt bring waar ons die lewe opnuut kan waardeer en verstaan watter krag stories het. Lees weer ’n storie, luister weer na ’n storie oor die radio, of vertel weer ’n storie. Dit maak die lewe net ’n beter plek.
Gebed
Here, dankie vir die grootste storie ooit! Die storie wat ons lees in die Bybel, oor die pad wat U met ons as mense loop, en hoe dit ’n hoogtepunt vind in Jesus Christus, ons Verlosser. Amen.