Jeremia 1:4-10. 4Die woord van die Here het tot my gekom: 5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel. 6“Ag, Here my God,” het ek geantwoord, “ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.” 7Toe sê die Here vir my: Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie. Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur,en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. 8Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red. Dit is wat die Here gesê het. 9Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Ek het nou my woorde in jou mond gelê. 10Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.
Die profeet vertel hier van Jeremia, ’n jong seun wat gedink het sy lewe gaan in een bepaalde rigting, maar dan sê God vir hom dat Hy vir hom iets heeltemal nuut beplan het. Natuurlik was Jeremia bang en onseker oor die nuwe wending wat sy lewe neem en het hy gewonder of hy goed genoeg is om God se groot plan uit te voer. Maar op ’n liefdevolle wyse gee God aan hom die belofte dat hy dit nie op sy eie hoef te doen nie, maar dat God by hom sal wees en hom sal help. Dit is soms die enigste trooswoorde wat ons nodig het wanneer ons in ’n nuwe hoofstuk van ons lewens is – dat ons nie alleen is nie. Mag dit ons troos wees. Maar mag Jeremia se storie ook vir ons ’n uitnodiging wees, want God gebruik ook gewone mense, soos ek en jy om buitengewone dinge in hierdie wêreld te doen. Mag ons in hierdie Pinkstertyd, diep bewus word van die influistering van die Gees en op watter nuwe paaie God ons lei.
Amen