Wysheid wat heel maak
Carol Dweck, die Amerikaanse sielkundige het ’n studie gedoen waar sy twee groepe kinders getoets het. Die eerste week het hulle vir die kinders in groep 1 ’n toets laat skryf en met die uitgee van die resultate hulle vir hul intellek geprys. Groep 2 het dieselfde toets ondergaan en na die toets was hulle vir hul probeerslag, maar nie hul intellek nie, geprys. Dweck en haar span het na ’n week vir albei groepe die opsie gegee om ’n moeilike toets te skryf wat aan hulle ’n uitdaging sou bied, of om die makliker toets te skryf wat geen uitdaging sou bied nie. Groep 1 wat vir hulle intellek geprys is, het dadelik die maklike toets gekies, teenoor die ander groep wat almal die uitdagende toets gekies het en beter daarin gevaar het as die eerste groep.
Dweck en haar span het bevind dat wanneer mense bereid is om te probeer en soms nie suksesvol is nie, is hulle daarna meer bereid om uitdagende situasies aan te pak. Haar boek “Mindset” verduidelik hierdie konsep. Tydens die pandemie is dit interessant hoe maklik ons in fopnuus vasgevang kan raak, of binne ’n sekere paradigma sake kan verstaan. Soveel so dat ons nie uitdagings wil aanpak nie en eerder net vasgevang in ’n situasie bly sit.
Die Spreuke skrywer het ’n interessante opinie oor wysheid in Spreuke 26:4-6. “4.Moenie ’n dwaas se vraag op net so ’n dwase manier beantwoord nie; hy sal dink jy is soos hy. 5. Beantwoord ’n dwaas se vraag op net so ’n dwase manier, anders dink hy hy het wysheid. 6. As jy ’n dwaas met ’n boodskap stuur, kan jy net so wel nie ’n boodskap stuur nie en aanvaar dat daar moeilikheid kom.”
Dit is asof die skrywer twee opinies het oor hoe om nie dwaas op te tree nie. Aan die een kant sê hy: moet nie ’n dwaas antwoord soos ’n dwaas nie, aan die ander kant sê hy: maar antwoord die vraag van ’n dwaas op ’n dwase manier.
Die skrywer wil ons bewus maak van ons onderskeidingsvermoë. Die Spreuke skrywer nooi ons om met onderskeidend te leef, want dit is wysheid wat heel maak. Die skrywer sê vir ons, ons moet die situasie lees.
Om met onderskeidend te leef beteken dat ons moet probeer, selfs al beteken dit dat ons foute maak en selfs al doen ons dit verkeerd.
Gebed:
Here, dankie vir die nuwe dag. Dankie dat ons kan weet dat ons binne U genade kan probeer en weer probeer. Dat ons kan leer om te onderskei en wysheid te ontwikkel. Here, mag ons in hierdie tyd met wysheid leef sodat dit ons en die mense om ons heel maak.
Amen.