Op gesonde grond:
Wetenskaplikes het bevind dat die mens per minuut 16 tot 20 asems in-en uitasem. Daar word gesê dat dit beïnvloed word deur die druk wat mense beleef. Ons weet natuurlik dat ons vinniger begin asemhaal wanneer ons druk by die huis, werk of tussen mense ervaar. Meditasie is ’n hulpmiddel wat mense deesdae gebruik om hulle te help om hul asemhaling te reguleer, maar dit bly moeilik om in tye van spanning op jou asemhaling te fokus.
Wanneer Moses in God se teenwoordigheid kom, is hy in ’n plek met die naam Midian.
Eksodus 3: 4. Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.” 5Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.”
Dit is interessant dat die skrywer in die gedeelte klem daarop plaas dat Moses van die brandende bos bewus geraak het en toe nader daaraan wou beweeg. Dit is asof die skrywer vir ons wil sê dat Moses net ’n oomblik gehad het waarbinne hy van God bewus geword het. Ons lewens is ook so – ons aandag word so maklik deur al die druk en nuus van ons tyd opgeslurp. Soveel so dat ons soms nie die brandende bosse in ons lewens kan raaksien nie. Ons is nie bewus van waar ons God ontmoet nie, want ons neem nie tyd om ons skoene uit te trek en om daar te gaan staan nie.
Moses se verhaal gee vir ons leiding oor hoe ons die brandende bosse ook tydens die pandemie moet raak sien. Al word ons deur al die nuus en statistieke van Hom weg getrek, moet ons ’n gesonde manier vind om bewus te raak van waar ons God in hierdie tyd kan ontmoet.
Wat is die goed wat jou in die tyd van die heilige grond af weg trek?
Gebed:
Here, mag ons in hierdie tyd bewus word van die brandende bosse om ons. Mag ons U weer opnuut raaksien in die chaos wat ons beleef. Mag ons in hierdie tyd meer en meer ons skoene uit trek en saam met U op gewyde grond staan.