Gedagte vir die dag | Vrydag 21 Mei 2021

Genesing van Wonde:
Almal het wonde wat hulle saam met hulle dra.  Ek onthou hoe mense, wat ek vertrou het,  in my lewe hulle rug op my gedraai het.   Dit maak seer en bly steeds by my.   Ons kry dikwels seer en hierdie wonde genees selde.  Ek dink aan mense wat byvoorbeeld deur hulle vennote ingedoen is, of verhoudings wat seer gekry het en ’n blywende wond in elkeen van ons gelaat het.  Sielkundiges stem saam dat ons net wonde kan genees as ons dit na die oppervlak toe bring en dit reguit in die oë kan kyk.

Paulus het in sy brief aan die Romeine hierdie essensie oor hoe ons gesonde Christene kan wees beklemtoon.
Romeine 12:14.  “14Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.”

Paulus praat hier oor die riglyne vir ’n Christelike lewe.  Wat hy sê is dat ons die mense en die dinge wat ons seer gemaak het en ons  wonde veroorsaak het moet seën en hulle nie vervloek nie.  Dit is asof Paulus ons nooi om nie weg te draai van dit wat ons vervolg nie, maar om juis daarheen te draai.

Gesonde Christenskap tydens die pandemie is nie om weg te draai van die goed wat jou vervolg nie, maar om dit in die oë te kyk,  sodat dit kan genees.

Gebed

Here, gee ons die moed om die seer van die pandemie in die oë te kyk.  Help ons Here sodat ons meer en meer heel kan word in tye van gebrokenheid.