Gedagte vir die dag | Woensdag 19 Mei 2021

Wanneer ons in die storm uitroep:

Toe ek nog in Pretoria gewoon het, het ek gereeld dié sêding gehoor: “ Jakkals trou met wolf se vrou”.   Pretoria is ’n somer reënvalgebied en die donderstorms het vinnig gekom en vinnig verdwyn.  Ek het nog altyd van hierdie beeld gehou – storms wat vinnig opsteek en ’n mens kan nie maklik daarvoor wegkruip nie, wel nie  vir ’n donderstorm nie.  So werk dit ook met die storms van die lewe, dit slaan vinnig toe, is onvoorspelbaar en meestal onbeheerbaar.

Dit is interessant hoe groot die aantrekkingskrag van welvaartsteologie in ons post-moderne samelewing geword het.  Ons voel dat God ons moet help om meer heel as ander mense te wees en ons glo dat ’n verhouding met God moet ’n heel verhouding wees anders is daar iets fout.  Terwyl die Bybel daarop dui dat storms ons gaan tref, maar dat God ons gebrokenheid raak sien.  Dit is asof die Bybel ons wil lei om te verstaan dat ons almal om hulp uitroep en dat God naby aan diegene is wat om hulp skree.  God is m.a.w. naby dié wat seer is.

Psalm 9:12.

Sing tot eer van die Here wat op Sion woon,

vertel die volke van sy dade!

13Hy dink aan die onskuldiges en wreek hulle dood,

Hy verontagsaam nie die geroep van dié wat in nood verkeer nie.

Die Psalmskrywer skryf hoe God nader aan ons is tydens die nood en die storms van die lewe.  Die Psalmskrywer sê dat dit OK  is om nie heeltemal OK te wees nie, want God is ook in daardie situasie by jou.  In hierdie tye moet ’n mens besef dat God ons in ons “nie-heelwees”, of gebrokenheid ontmoet.   Ons moet weet dat daar waar ons om hulp uitroep, daar is God naby.

Gebed

Here, dankie dat U ons noodkrete hoor, dankie dat U die lyding en die gebrokenheid wat in ons is, raak sien.  Ons bid Here dat ons U meer en meer sal raaksien te midde van die storms van die lewe. Amen

Mag jy te midde van die storms besef dat God nader aan jou is as wat jy dink.