Gedagte vir die dag | Sondag 16 Mei 2021

Handelinge 1:6-8: “Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: ‘Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?’  Hy het hulle geantwoord: ‘Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.’”

Die vers het vir my ’n spesiale betekenis, dit was die teksvers wat ek tydens my belydenisaflegging ontvang het. Die van julle wat my nie ken nie, sal seker nou agter kom hoe oud ek is. Ek was in graad 11, of standard 9, toe ds. Bester die gedeelte in Handelinge 1 vir my gegee: “julle sal my getuies wees”.

Dit is ook so, dat die gestalte van die Gees in elkeen van ons se lewe anders lyk.  Ek het in my voorbereiding bietjie opgelees oor die Aeolian harp.  Dit het blykbaar oorsprong gevind in die Griekse fabels oor die Griekse God van die wind. Die Aelois harp was nie noodwendig altyd uit hout gemaak nie, maar dit is in oop ruimtes geplaas.  Die snare was verskillende lengtes en kwaliteite en is dan op hoë plekke soos brûe waar die wind goed en sterk waai, aangebring. Afhangende van hoe die wind waai, het die harpe dan ’n ongelooflike mooi melodie gespeel.

Op Youtube kan ’n mens na die klanke van die harp, wat blykbaar voor Christus in gebruik was, luister.  Dit is die verskillende lengtes en kwaliteite van die snare wat buite in die wind en die weer staan wat veroorsaak het dat die harp ’n melodie voortbring.

Dis is ’n mooi analogie oor die lewens van gelowiges, en die tipe lewe wat ons moet lei.  Ons wat in die wêreld leef en eintlik regoor die wêreld neergesit is moet  deur middel van God se Gees oor die uithoeke van die wêreld heen die melodie van God se evangelie speel soos die wind deur hulle waai.

Mense verskil van mekaar en het verskillende kwaliteite en persoonlikhede omdat almal anders deur God se Gees gesnaar is.  Dit alles dra daartoe by dat God se Gees op ’n unieke, of persoonlike manier deur ons speel. In hierdie Pinkstertyd het ons weer tyd om opnuut daaroor na te dink en moet ’n mens toelaat dat God se Gees deur jou waai.

Gebed:

Here, dankie vir die werking van u Heilige Gees en die unieke deur waai van u Heilige Gees in elkeen van ons se lewens.

Amen.