Gedagte vir die dag | Saterdag 15 Mei 2021

Ons is in Pinkstertyd, wat tradisioneel met Hemelvaart begin.  Vroeër dae  is daar tien pinksterdienste gehou, baie van julle sal dit onthou en in die tyd praat en dink ons spesifiek aan die werk van die Heilige Gees en die uitbeelding daarvan in ons lewens.

In Handelinge 1 lees ons oor die belofte van die Heilige Gees, ek lees vers 4: “Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: ‘Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.'” Ons ken almal die verhaal van die uitstorting van die Heilige Gees en ek lees in Handelinge 2, waar hulle in verskillende tale gepraat het en die Heilige Gees ontvang het.

“Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: ‘Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?’ (Hulle het mos aan ’n ander koninkryk gedink as wat Jesus in gedagte gehad het) Hy het hulle geantwoord: ‘Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.’”

Ons is die ontvangers van hierdie Gees, wat in Handelinge 2 uitgestort is. In ons kerktradisie glo ons dat God die Vader, en God die Seun, en God die Heilige Gees – een is.  As ek God of Jesus ontvang, dan ontvang ek die Heilige Gees, dit word so mooi vir ons gesê in die doop: “Ek doop jou in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.”  Elke gestalte van God se Gees realiseer in God se werke en in God se drie-eenheid. In die besonder ook die werking en die misterie van God se Gees.

Hoe werk dit regtig? Ons hou vas daaraan dat God se Gees ’n werklikheid in ons lewens is.  Ek het op ’n verhaal afgekom waarin vertel word hoe seevaartskepe vroeër jare baie afhanklik van die wind was.  Wanneer daar geen wind was nie, het die skip tot stillstand gekom en roerloos op die plat see stil gelê.  Dit het amper gelyk asof die lug asemloos is, verduidelik die skrywer. Die matrose sou dan opmerk dat ’n klein vlaggie heel bo aan die mas, saggies in die wind begin wapper terwyl daar op daardie stadium nog geen aanduiding van die wind onder op die dek van die skip sou wees nie. Dan het die matrose dadelik die seile begin span, en die skip sou weer begin beweeg het.

Hierdie beeld beskryf vir my iets oor wat die die Heilige Gees in ons lewens beteken. Die atmosfeer in die wêreld waarin ons leef – op die straat, in winkels, in die kantoor en waar ons ons besigheid bedryf kan dood voel en dit kan lyk asof daar geen vooruitgang in die lewe is nie.   Maar bokant alles is daar lugstrome wat ons nie kan sien nie sodat ons ons seile kan span. Ons moet dit gebruik om nie tot stilstand te kom nie. Ons kan die voortstuwende krag van God se Gees, waarvan Hy gepraat het voor Hy weggegaan het, ervaar. Die misterieuse het ’n realiteit vir elke gelowige se lewe geword.

Ek wil jou uitnooi om ons pinksterdienste wat op Sondag 16 Mei begin, by te woon.  Dit is ook aanlyn beskikbaar. My kollega,  Why Duvenahge hanteer die jaar die pinksterreeks, want die Heilige Gees is in die boonste lugweë en wanneer ons daardie bries opvang kan ons, ons lewensskip vorentoe beweeg. Indien jy soms stil staan, is dit ook reg, of soms kan jy ’n dwarswind tref, maar God is met elkeen van ons oppad, deur sy bonatuurlike Gees.

Gebed:

Here dankie vir die uitstorting van u Gees in ons lewe. Dankie dat ons dit opnuut in hierdie pinkstertyd kan toewy.

Amen.