Markus 10:25. “Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”
Markus 10 vertel van ’n besige dag in Jesus se lewe toe mense probeer het om ’n paar kindertjies na Jesus en sy dissipels te bring sodat hulle geseën kon word. Die dissipels het ’n vol program gehad en het nie tyd vir lastige kindertjies gehad nie. Hulle het die ouers ook sodanig ingelig.
Hulle het gedink dat Jesus te belangrik is om homself met kindertjies te bemoei. Hulle het gedink dat die kinders ’n oorlas en ’n onnodige steurnis vir Jesus sou wees. “Kan julle nie sien dat Jesus met belangriker sake as kinders besig is nie? Hy het werk om te doen! Laat staan Hom! Hy is besig om ons te onderrig. Hy het nie tyd om op kindertjies te mors nie!”
Volgens Markus 10:14-16 het Jesus, toe Hy sien wat gebeur het, vir sy dissipels kwaad geword. Hy het vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.“
En die Here Jesus wil hê dat ons met hierdie soort kinderlike vertroue in Hom moet glo. Ons moenie daarop aandring om al die geheime van die skepping te verstaan en te begryp nie. Nee, die belangrikste moet wees dat óns ons afhanklikheid van God moet besef. So afhanklik soos wat ons kinders van ons is, so afhanklik moet ons van God wees.
GEBED
Here Jesus ek is klein, swak onkundig en onrein. Maak my hart vir U tot troon dat U daarin kan woon.
Amen