Gedagte vir die dag | Maandag 17 Mei 2021

2 Korintiërs 4:7.  “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”

GEDAGTE
Die beeld wat Paulus hier gebruik, is vir die Korintiërs goed bekend.  ’n Skat in erdekruike.  Korinte was immers ’n welvarende handelstad, met baie ryk mense wat groot skatte opgegaar het.  Die skatte het hulle, soos destyds maar gedoen is, in kruike geplaas.  En Paulus gebruik dit in sy beeldspraak.

Ons is ook erdekruike met ’n skat in ons.  Ons het ’n skat wat kosbaarder is as enige iets anders in hierdie wêreld.  Wat is hierdie skat? In 2 Kor. 4:4-6 hoor ons dit is die evangelie, met ander woorde die Goeie Nuus dat Jesus Christus vir ons aan ’n kruishout gesterf het sodat ons verhouding met God weer herstel kan word.  Die skat wat ons in ons dra is die sekere wete dat ons nie meer verlore is nie, maar dat ons aan God behoort.

Dan hoor ons ook in vers 7 dat God die kleipot wat maklik kan breek, gebruik.  Ons is soos daardie kleipot wat maklik breek, maar tog gebruik God ons om die skat van sy evangelie in te bêre.  Vir God is ons almal — elkeen op besondere wyse ’n erdekruik wat die skat van die evangelie moet bewaar en uitdra.

In ’n toneel uit Leonard Bernstein se “Mass”, word ’n priester deur ’n skare mense op die hande gedra.  In sy hande hou hy ’n nagmaalbeker wat van glas gemaak is.   Die skare struikel en in die proses val die priester met die glasbeker op die grond en die glasbeker spat in skerwe.  Dan stap die priester na die beker en tel glasskerwe op.  Hy hou dit in die lig en roep uit: “I never realized that broken glass can shine so brightly!”  Die boodskap is duidelik: Al breek ons maklik, skyn God se lig nog steeds deur ons!  Ons is nie volmaakte mense nie, maar vergeefde mense.  Vergeefde mense wat nuut kan lewe.

GEBED
Here maak my ’n bruikbare kruik, wat u evangelieboodskap dra.

Amen