Prediker 3:1-2. “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ‘n tyd om gebore te word, ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant , ‘n tyd om plante uit te trek.”
Maak die gesloer en die sirkelgang van die lewe jou soms moedeloos? Beleef jy ook die uitdagings van te min tyd en die rol wat ’n mens se ouderdom in jou lewensreis speel? Kinders droom oor wanneer hulle eendag groot is en oor dit wat hulle eendag wil word. Studente streef om hulle kennis in ’n beroep toe te pas sodat hulle daardeur geld kan verdien wat hulle instaat stel om artikels aan te koop. Middeljariges raak skielik bewus dat hulle aftrede voorlê en kan nie wag vir die dag om uiteindelik op te hou werk nie. Ouer mense kyk helaas weer terug oor ’n leeftyd wat agter hulle lê en verlang na die dae toe hulle kinders was. Hoe ironies is die sirkelgang van die lewe tog nie? Dit verkondig: Maak die beste gebruik van elke oomblik van jou lewe, want dit is kosbaar en kan nie weer herhaal word nie. Moet dus nie vandag in die sloergang van jou lewe vasgevang voel nie. Alhoewel alles om jou dieselfde lyk, is dit nie dieselfde tyd en dag nie. Beleef vandag die dankbaarheid van die Here se seën in jou daaglikse roetine.
Gebed
Here, ek droom so dikwels oor ’n lewe wat net nooit vir my wil realiseer nie. Ek kyk vas in moeilikheid wat oor en oor herhaal word. Help my Here om elke oomblik waneer ek iets in my lewe “plant” dit te waardeer, omdat die tyd van “plante uittrek” nie ver lê nie.
Amen