Galasiërs 5:13-14. Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet is in die gebod saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Die insig wat Paulus vir ons in die Bybel gebring het was dat ons sondige natuur juis nie van ons ellendige mense maak nie. Ons kan keer op keer vir ons sondes vergifnis ontvang mits ons daarvoor vra en probeer regmaak waar moontlik. Ongelukkig gebeur dit dat ons in hierdie vryheid gemaklik raak. Ons weet van God se vergifnis, maar vergeet om ons sondes en skuld te bely en die dade wat regmaak en heelmaak daarmee saam te voeg. Daarsonder word God se genade goedkoop en ons vryheid ’n verskoning vir ons slegte gedrag. Christus het vir ons sondes gesterf, maar neem tog tyd om jou sondes in die oë te kyk en dit te bely. Ervaar juis dat die betekenis van God se vergifnis in die wyse waarop ons mense prakties dien, gevestig is.
Gebed
Here, daar is so baie dinge wat in my lewe verkeerd is en wat net te vinnig by my verbygaan. Help my vandag om vir ’n oomblik tot stilstand te kom sodat ek dit in die oë kan kyk en kan bely. Ons skram so maklik weg van die gevoel van berou en om die opregtheid van U vergifnis te ervaar. Laat u vergifnis ons inspireer om te vergewe, of vir ander om vergifnis te vra. Here, help ons om die liefde van u vergifnis waar ons tussen mekaar leef, prakties te ervaar.
Amen.