Gedagte vir die dag | Sondag 9 Mei 2021

 

Psalm 103:10-11. “Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot soos die afstand tussen die hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir die wat Hom dien.”

Dit is baie moeilik om van ons skuld en sonde ontslae te raak. Net soos ’n mens ’n klomp probleme of skuldgevoelens in jouself uitsorteer, verskyn daar weer nuwe skuldgevoelens in hulle plek wat jou dikwels met ’n skuldige gewete laat.  Dit is dan ’n groot troos dat God ons nie volgens ons sondes vergeld nie, maar dat sy liefde die maatstaf is waarmee Hy ons beoordeel.  Vanoggend se teks praat met ons oor die lang reis van geestelike groei.  God se genade word nie goedkoop wanneer jy op die punt kom om te aanvaar dat daar altyd skerp kante aan jou menswees sal wees nie.  Ons skuld saam met God se vergifnis, vorm ons menswees.  Dit is beslis nie ’n maklike en pynlose ervaring nie.  Moet daarom nie moed verloor oor jou en ander mense se skuld en sonde nie. Gun jouself en ander die ruimte om te mag groei deur foute te begaan. Bely dit wat swaar op jou hart lê en aanvaar God se vergifnis inruil. Dit is immers waaroor hierdie mooi Psalm sing.

Gebed

Here, die foute wat ons maak oorweldig ons. Ek bly voortdurend bewus van my en mense om my se tekortkominge. Here, wees ons asseblief genadig. Dankie dat U met geduld hierdie lewenspad saam met my stap en my kom transformeer met elke fout wat ek kom maak. Dankie dat U my menswees oor die jare wat verby is kom vorm het.

Amen.