Efesiërs 2:8-9. “Julle is inderdaad uit genade gered deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie, dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.”
’n Mens is gewoonlik baie trots wanneer jyself, of iemand wat jy goed ken ’n prestasie behaal. Ons lewens bestaan uit fases waarin die een prestasie jou toegang tot ’n volgende fase bied. So klim ons die leer van sukses en voeg daarmee ook betekenis aan ons lewens. Indien jy nie aan die vereistes van elke fase van die lewe voldoen nie raak jy dus stelselmatig al hoe meer agter. Alhoewel hierdie beginsel streng in ons lewensreis toegepas word is daar ’n ander beginsel wat rakende ons geloofsreis geld. Jy is inderdaad uit genade gered deur geloof. Die goeie nuus van die Evangelie is dat God ons nie volgens ons prestasie beoordeel nie. Sy genade, wat aan die lewe betekenis gee, geld ongeag die vereistes wat ons aan mense stel. Hoe help dit jou vandag om anders na kinders, kleinkinders, vriende en familie te kyk wat iewers in ’n bepaalde lewensfase in die lewe vasgeval het? Hoe help dit jou om self betekenis te vind binne die lewensfase waarin jy jouself bevind?
Gebed
Here, help my vandag om in u genade vreugde te vind en nie vasgevang te raak in die streng en ongenaakbare vereistes wat die lewe dikwels aan ons stel nie. Help my om mense om my te ondersteun wat om een of ander rede sukkel om ’n sinvolle bestaan te voer. Help my om hulle genadig te wees eerder as om hulle aan te jaag tot beter prestasies. Begin daarom eers by my, Here. Help my om eerstens in my eie lewe rus te vind in u genade.