Jakobus 4:13. “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.’ Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: ‘As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.’ Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd.”
Ons is darem nou op ’n beter plek as waar ons verlede jaar was. Ek het gister by iemand gekuier wat verjaar het. Hy het verlede jaar ’n ronde syfer verjaarsdag tydens die algehele inperking gevier en ons het moontlik almal gedink dat ons vanjaar teen hierdie tyd al sonder maskers sal kan rondloop, maar die pandemie het ons tot die besef gebring dat ons nie weet hoe ons lewe gaan lyk nie. Selfs as ’n familie moes ons ook maar vakansieplanne kanselleer en ons het op die ou end die geld verloor.
Ek lees van André Francois Raffray wat op 70-jarige ouderdom ’n eiendomskontrak met Jeanne Calment in Frankryk gesluit het. Hy sou haar tot haar dood toe, 500 pond ’n maand betaal, om uiteindelik waneer sy sterf die eienaar van haar huis in Arles, Frankryk te word. Sy was toe 90 jaar oud. Dit was ’n algemene praktyk in Frankryk, wat beide tot voordeel van die koper en die eienaar sou wees. Dit bied aan die eienaar die opsie om geld te verdien waarmee lewenskostes gedek kan word en die ander party bekom uiteindelik ’n eiendom.
Ongelukkig vir Raffray, het Calment een van die oudste lewende persone van daardie tyd geword. Die huiseienaar het op 122-jarige ouderdom nog geleef, en uiteindelik vir Raffray oorleef wat in Desember 1995 op die ouderdom van 77 jaar oorlede is. Hy het 184 000 pond aan haar oorbetaal vir ’n huis waarin hy nooit self kon woon nie.
Ons kan soms baie verkeerd wees in ons voorspellings of beplanning vir die toekoms. Jakobus vertel baie mooi hiervan: “Vandag of môre sal ons na die of daai stad toe gaan, en ‘n jaar lank daar bly. Ons sal sake doen, en geld maak, julle wat nie eens weet hoe julle lewens môre sal wees nie.” Ons weet dat dinge nie noodwendig uitwerk volgens ons beplanning of ons drome nie. Ons is gewoonlik erg teleurgesteld oor sulke wendings en daarom is ek baie lief vir die aanhaling: “The turn in the road, is not the end of road, unless you fail to make the turn.”
Ons weet nie hoe die lewe gaan verloop nie en is dikwels verkeerd al het ons die mooiste bedoelinge, of al glo ons dit is wat die Here vir ons gesê het, of dit is die pad wat die Here wil hê ons moet loop. Mag ek en jy die genade ontvang om versigtig te lewe en versigtig te beplan en nooit te vergeet dat ons uit die hand van die Here moet leef nie. Mag ons ook die genade ontvang om wanneer dinge nie uitwerk soos ons gedroom, of beplan het nie die aanpasbaarheid te hê om die veranderinge of teleurstellings te kan hanteer.
Gebed
Here ons weet dat ons toekoms in u hand is. Dankie dat ons weer opnuut leer wat onsekerheid beteken, en om ook met onsekerheid te leef, en dat ons kan vertrou dat U saam met ons die toekoms sal inloop.
Amen.