Ontmoet die VanZyl-doomspan

Die Van Zyl-gesin is Sondag na Sondag al vroeg soggens aan die werskaf op die kerkterrein om seker te maak dat die gemeente se bedrywighede elke Sondag vlot verloop.  Ma Susan is die koster en saam met haar beman Charlene, haar dogter, elke Sondag die teetuin en voor die Covid-19-pandemie was Charlene ook een van die gasvrouens by die kafeteria.  Ruan en Charl, die twee broers, los mekaar Sondae as baristas agter die cappuccino masjien af.  Stellenberger het by die klomp flukse Van Zyls wat ’n uitsonderlike voorbeeld van samewerking en spanwerk stel, gaan inloer.

Susan vertel dat sy in 1995 as afloskoster by die gemeente begin het en later as die voltydse Sondagkoster aangestel is.  Die Van Zyls is Sondae vanaf 07:15 doenig op die kerkterrein.  “Ons begin met die oopsluit en oopmaak van deure en vensters,” sê Susan.  “Ons skakel die ligte en urns vir kookwater aan en maak seker dat daar vir die prediker ’n glasie water op die kansel is.  Geldsakke en bulletins word uitgesit en dan is daar nog so 110 ander klein goedjies wat aandag kry voor die erediens begin.  Hier rondom 12:00, afhangend hoeveel dienste daar is en hoe lekker die mense vroeër dae in die kafeteria gekuier het, gaan ons eers weer huis toe net om weer vanaf 17:00 tot 18:00 in te klok en dieselfde take vir die aanddiens te verrig.”

“Party oggende kan dinge lekker skeef- en deurmekaarloop,” vertel Susan, “maar ons maak altyd ’n plan.  Die oggend toe die bel van die kerkklok deur die dak grond toe geval het, was ’n oggend wat ek egter nie sommer sal vergeet nie.”

Susan is vanaf Maandae tot Vrydae ’n spysenier by Laerskool Eversdal se nasorgsentrum.  “Daar hanteer ek al die beplanning en voorbereiding van maaltye.  Charlene is ’n stoelassistent by die Intercare-mediese sentrum, naby Tygervalleisentrum.  Charl is ’n uitvoerkontroleerder by ’n maatskappy wat wyn uitvoer en Ruan maak gemmerbier, limonade en koeldrankstrope wat hy aan restaurante en winkels verskaf.”

In die Van Zyls se huishouding is afdae of ledige uurtjies maar skaars, maar indien daar wel ’n blaaskans is, geniet hulle dit om saam te braai, of om saam met familie by die see te kuier.  “Die algehele inperking in 2020 het aan ons die luuksheid gebied om op ’n Sondag rustig saam na ’n erediens te kyk,” sê Susan.  “Die tyd wat ons gehad het om in die huis en tuin te spandeer, was lekker en vir ons ’n groot bederf.”

Saam met al die hooi wat die Van Zyls reeds op hul vurk het met hul voltydse beroepe en hulle verantwoordelikhede op Sondae by die kerk,  bak hulle boonop jaarliks vrugtekoeke wat op die gemeente se feesmark en ander Kersmarkte verkoop word.  Susan se vrugtekoek is ’n gunstelingverkoper by die feesmark en onder normale omstandighede bak hulle jaarliks ongeveer 3 000 mediumgrootte vrugtekoeke en 6 000 kleintjies.   Selfs in 2020 toe die kleiner opskietwinkel aangebied is, het die Van Zyls nie ’n vreeslike insinking in die verkope van hulle vrugtekoeke beleef nie.

Die sukses van die vrugtekoeke is gebaseer op die geoliede produksieketting en spanwerk in die huis.  “Ons begin teen 20 September met die bakwerk, maar ander voorbereiding word deurlopend deur die jaar gedoen,” verduidelik Susan.  “Elkeen in die gesin het ’n spesifieke taak:  Ruan moet die bestanddele afmeet en die vrugtemengsel kook.  Ek en Charl doen die finale meng- en bakwerk en Charlene moet in daardie besige tyd die huishouding bedryf.  Sy moet sorg dat kosaankope gedoen word en maaltye voorberei word.  My twee skoonsusters kom help met die verpakking van die vrugtekoeke.”

Enige iemand wat die Van Zyls ken sal nie oor hulle vermoë om lekker kos te maak stry nie en die gesin het eenparig besluit dat hulle gunstelingmaaltyd een van Charlene se baie lekker pastadisse is.  Tweede op hulle lys van gunstelingmaaltye is ’n lekker braaivleisete wat deur Charl of Ruan voorberei word.

Susan lag maar net as ons vra hoe ’n mens te werk moet gaan om sulke flukse kinders groot te maak.  “Nee, ek het nie ’n wenresep nie,” sê sy “maar in so ’n besige huishouding soos ons s’n moet almal help.  Ek is net dankbaar dat ek danksy my ondersteunende gesin my werk by die nasorgsentrum en die kerk kan behartig en boonop nog die vrugtekoeke gebak kry.”

Na ’n kykie in die vlytige gesin se lewens,  wil ’n mens amper sover gaan om Spreuke 6:6 aan te pas na: Gaan kyk na die Van Zyls in Lynneslot, Rosendal, luiaard, kyk hoe hulle werk, en leer by hulle.