2 Timoteus 4:1. “Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: 2verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee”
Later gaan die gedeelte oor mense wat die woord sal verkondig en hy sê: “Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God.”
Vers 9: “Probeer so gou moontlik na my toe kom, want Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat en na Tessalonika vertrek.”
Hy praat oor mense wat God verloor het. Omstandighede veroorsaak soms dat mense (en ek ken sulke mense) wat geglo het, nie meer glo nie, die lewe maak nie meer vir hulle sin nie, en hulle voel die Here help hulle nie.
Ek het nou die dag gelees oor die beeld van skepe wat in die hawe aan ankertoue lê, en die skrywer het daarna verwys dat dit ’n oop see is, wat nie veilig is nie, maar ons weet dat dit nie veilig is nie. Skepe is nie gemaak om veilig in die hawe te lê nie, maar om op die oop see te vaar en die storms te trotseer sodat kosbare vragte afgelewer word.
Dit het my ook laat dink aan die boot wat dwars in die Suez-kanaal gelê het en dat die skepe nou weer om die Kaap met hul olievragte moes vaar. Hulle vertel dat daar in die poolstreke ’n interessante natuurverskynsel is. Die oppervlakstrome beweeg in een rigting, en sleep al die skuim en dryfhout saam. Maar loodreg teen hierdie strome in, binne hierdie spitsverkeer van die stroom, sien jy ’n ysberg aangedryf kom. Hoe is dit moontlik? Wetenskaplikes verklaar dit as volg: Diep onder die oppervlaktes van die oseaan is daar ander magtiger strome wat in die teenoorgestelde rigting as die oppervlakstrome beweeg. Hulle sê dat slegs een derde van die ysberg steek bo die oppervlakte van die water uit terwyl twee derdes, of meer onder die oppervlakte van die water in die sterker onderwaterstroom is. Daarom beweeg so ’n ysberg amper loodreg teenoor die oppervlakstroom in, dit ignoreer die skuim en dryfhout en wyk nie links of regs van die stroom af nie.
Gelowiges wat in die opstandingskrag van Jesus Christus glo en in die verlossing van Jesus geanker is, wat hul vryspraak vandaar ontvang, is in God geanker. In daardie rots, daardie diep stroom, en dit beteken dat ons die oorwinningslewe kan leef ten spyte van die rommel en skuim wat op die oppervlakte dryf. Ons kan saam met Paulus getuig: “nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God.”
My gebed is regtig dat ek en jy werklik ten spyte van die lewe en ten spyte van moeilikheid en gebeure wat nie sinmaak nie – dat ons die genade sal kry om te lewe vanuit die opstanding van die Here Christus. Dat ons nie die filosofie van die teenswoordige wêreld sal liefkry nie, maar geanker in Hom sal bly tussen al die strome deur.
Gebed: Here, dankie vir die genade om geloof te kan hê, in die Jesus Christus wat uit die dood opgestaan het. Help vir ons om deur die rommel en die moeilikheid wat ons soms ondervind diep geanker te bly.
Amen