2022: ’n Splinternuwe fase vir Stellenberg-gemeente

Deur: Ds. Marius Breytenbach

In Augustus 2021 vier ons Stellenberg-gemeente se 50ste verjaarsdag.  In die loop van die halfeeu het die gemeente die voorreg gehad om deur ’n verskeidenheid predikante en hulle gesinne bedien te word.  Met die aanvang van 2022 betree Stellenberg ’n nuwe era wanneer twee van ons predikante, di. Callie Visagie en Why Duvenhage beide aftree. Callie Visagie sal teen einde Januarie 2022 die gemeente se diens verlaat en Why Duvenhage se uittrede volg teen die einde van Julie 2022.

Om te verseker dat die oorgangsproses rakende die vakatures glad verloop, het die  kerkraad en strategiekommissie reeds in 2020 met beplanning daarvoor begin.  Die veranderde omgewing wat die Covid-19-pandemie geskep het, en die invloed wat dit op die gemeente as werksomgewing het, is ook in ag geneem.  Daar word beoog om Callie Visagie se pos as voltydse leraar teen Februarie 2022 te vul.  Die proses om ’n nuwe leraar vir dié pos te beroep, het reeds begin en ’n advertensie daarvoor is aan die begin van Mei in die Kerkbode geplaas. Gemeentelede is ook welkom om kandidate te nomineer.  Stuur nominasies na Lindy van Wyk de Vries by lindy@stellenberg.co.za.

Die vakature wat met Why Duvenhage se aftrede gelaat word, gaan nie gevul word nie.  Ons is in ’n bevoorregte posisie om ’n aantal predikante op die kerkraad te hê wat in diens van die Sinode Wes-Kaapland staan en dus aan die gemeente gekoppel is.  Verder huisves die gemeente ook ’n tentmakerspos.  Met inagname van die veranderde realiteite, maar ook die nuwe moontlikhede wat uit die Covid-19-pandemie voortgevloei het, het die kerkraad besluit dat die bestaande werklading deur die effens verkleinde predikantespan behartig sal kan word.

Callie Visagie en Why Duvenhage het albei tydens hulle bedieningstyd diep spore in die gemeente getrap.  Ons is baie dankbaar vir die waarde wat hulle as individue en leraars tot die gemeente se werksaamhede toegevoeg het.  Ons vertrou ook dat die Here, soos in die afgelope 50 jaar, met die aanstelling van ’n nuwe leraar die gemeente in 2022 op ’n nuwe pad sal lei en ons by nuwe geleenthede sal uitbring.