Gedagte vir die dag | Woensdag 28 April 2021

Spreuke 6:6: ’n Lui mens moet by die miere gaan leer. As hy mooi oplet hoe hulle werk, sal hy ook verstandig word.

Ons het so ’n week gelede van personeellede afskeid geneem wat vir baie jare in diens by die kerk was en met wie ek almal saam gewerk het. Die een is Bernie van Wyk, baie van julle sal hom moontlik ken, hy is ’n terreinwerker en ’n geliefde persoon. Marguerite Bester, wat 26 jaar die finansiële bestuurder was, aanvanklik saakgelastigde en deel van die intelektuele kapitaal van die kerk. Twee ander kosbare mense wat ook nou afgetree het is Marilize Verreynne  (feesmarkkoördineerder) en feesmarkassistent Adri du Randt.  Ek was nogals getref deur elkeen se positiewe ervaring van hoe hulle die gemeente beleef het.  As ek hulle almal moes saamvat dan besef ek hoe hulle elkeen iets verstaan het, elkeen op hul eie manier, van dit wat hulle gedoen het en dat hulle hul werk as ’n roeping gesien het. Dit was nie net ’n plek waar hulle geld verdien het nie, maar hulle het iets verstaan van hulle roeping binne die groter prentjie van die gemeente.

Omrede dit nou vakansie is en baie van julle dalk moontlik weg was vir die langnaweek,het ek aan die boek van Eugene Marais gedink en ook die fliek wat daar oor sy lewe was: Die wonderwerker.  Hy het die siel van die mier vir meer as tien jaar ondersoek en uiteengesit.  In sy werk het Marais sulke intressante aspekte en dinge soos die taal in die dierewêreld, pyn en geboortepyn in die natuur, die geheimsinnige beheer van buite, die koniningin in haar sel en die verskillende soorte werke wat miere doen beskryf.  As mens die intressante boeke en die literatuur van die mier lees, besef jy weer hoe in die kol die Bybel telkens is met sy beeldspraak en die besondere vergelyking wat ons in ons teksvers lees: “Gaan na die mier, en kyk hoe hy lewe,” waarmee ons die gedeelte begin het.

As mensdom is ons nie in die mier se liga nie.  Daar word beweer dat miere 16 uur per dag werk, nooit vakansie hou nie, die werk onder mekaar verdeel en deeglik beplan. Elkeen is ’n gedissiplineerde hardwerkende lid van ’n georganiseerde gemeenskap en daarom sê vers 8 later: “daarom maak hy sy kosvoorraad bymekaar in die somer, en versamel hy voedsel in die oestyd.”

In Job 12:7 klink Job moedeloos toe hy op ’n stadium vir een van sy teneurgedrukte vriende sê: “Miskien moet jy die diere vra om jou te leer” en daar is twee kante wat Job verduidelik as hy praat oor die sinvolheid van die lewe en die nuttigheidsbeginsel dat ons in die eerste plek nuttigheid moet vind in dit was ons doen.  Dit het ook ’n teenpool, ons moet nie ons nuttigheid net deur die tipe werk wat ons doen, laat bepaal nie, maar in die ander kant is daar ook waarde in wat ons doen en die betekenis daarvan.

Dalk is die raad wat ons vir mekaar moet gee wanneer ons ontspan dat ons moet ophou kla en die voorreg om te kan werk, raaksien. En kom ons almal begin ons werk as ’n roeping sien.  Ek was die afgelope week met wee jongmense in gesprek en dit was vir my vreeslik mooi om te sien hoe hulle, hulle lewe inrig om ’n balans tussen werk en familie te vind. Hulle sê toe in die eerste plek doen hulle nie hul werk om die suksesleer te klim nie, maar ons doen ons werk om ons lewe ordentlik te kan inrig.

Ek het ’n tyd gelede toe ek met my kinders in gesprek was vir Thomas Edison aangehaal: “ I never did a days work in my life, it was all fun!”

Dit is waarom ek kan sê: “Kom ons werk hard, kom ons doen ons beste en kyk wat ons by die miere kan leer. En ons glo dat die Here ons elkeen ’n roeping gee en op ’n plek geplaas het waar ons moet wees en waar Hy ons kan gebruik.

Gebed:

Here dankie vir die genade en voorreg en belangrikheid daarvan om te kan werk en help ons om die realitiwiteit ook daarvan te sien, dat ons nie vasval in die klein onnodige dinge nie. Gee asb vir ons daardie genade.