Gedagte vir die dag | Sondag 25 April 2021

Psalm 51:12.  12 Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.

Psalm 51 is die bekendste van die sogenaamde boetepsalms in die Psalmboek (6; 32; 38; 51; 102; 130; 143).  Dit word gekoppel aan Dawid se reaksie op die profeet Natan se veroordeling van sy owerspel met Batseba en die verraad teen haar man Urija wat tot sy dood gely het. Maar die betekenis hiervan geld vir alle tye en in alle situasies waar vir vergifnis en herstel gebid word.

Dit is dan ook wat ons vandag van die Here af bid: “Skep vir my ’n rein hart, o God. “

As die Bybel praat van die “hart”, dan is dit nie die orgaan wat binne-in my klop en bloed pomp nie.  Die term “hart” in die Bybel verwys na die kern van ons geestelike lewe, vanwaar uit ons totale geestelike lewe beheer word. Dit is die plek waar ons begeertes en gedagtes, maar ook ons karakter vorm aanneem.

ʼn Rein hart wil op God fokus en niks doen wat Hom teleurstel nie. Reinheid van hart gaan oor ʼn positiewe toewyding, of oorgawe van ons ganse lewe aan die Here. Dit is iemand wat besef dat hy God nodig het en nie langer sonder Hom kan en wil lewe nie. En dan juis sy lewe aan die Here oorgee. Reinheid van hart gaan ook oor ʼn “commitment” aan die Here. Die Afrikaanse woord wat seker die naaste aan hierdie Engelse woord kom, is toewyding. Die vraag waarmee ons reinheid van hart kan evalueer is: Hoe diep is ons toewyding aan die Here?

Die Here Jesus het self gesê: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” (Mat. 5:8). Die leer van onse Here Jesus Christus onderstreep vir ons hierdie kosbare begeerte van Dawid – die begeerte na ’n rein hart en  ’n rein lewe.

GEBED

Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.