’n Lewe deur die Here gerig – Bernie sê koebaai

Lidmate wat die kerkterrein of -kantoor gereeld besoek, het waarskynlik al met Bernie van Wyk, terreinwerker, kennis gemaak.  Die lang, skraal man met die gemaklike glimlag, sagte oë en lekker welige snor is sedert 2006 werklik almal op die terrein en in die kantoor se linker- en regterhand.  Of dit nou die basaar, feesmark, ’n begrafnis, of voorbereiding vir die nagmaal is – Bernie van Wyk weet waar alles is en kan sy hand op enige iets wat soek is, lê, maar vanjaar het hy sy 65ste verjaarsdag gevier en moet noodgedwonge die tuig neerlê.

Bernie vertel dat hy in Maitland grootgeword het.  Sy ma het solank as wat hy kan onthou, altyd spyseniering gedoen.  Dit is dan ook by haar wat hy ’n passie vir kos maak ontwikkel het en sy droom was altyd om sy eie restaurant oop te maak.  Met dié droom en passie in gedagte het hy na standerd ag by die Pentech College aangesluit, waar hy begin het om hom as ’n sjef te kwalifiseer.

“Ek het ’n plekkie in gedagte gehad waar ek my restaurant wou oopmaak,” sê Bernie.  “Toe kry ek ’n geleentheid om op ’n passasierskip te werk waar ek vir die ontbytbediening verantwoordelik sou wees.  Ek sou vir ses tot nege maande aaneenlopend op die boot wees.  ’n Sameloop van omstandighede het tot gevolg gehad dat ek uiteindelik nie die werk op die bote aanvaar het nie en enkele maande daarna is my pa oorlede.  Toe moet ek inspring en ’n werk kry om my ma te help onderhou.  Dis toe dat ek by die poskantoor in Durbanville begin werk het, waar ek vir 30 jaar gewerk het.”

Vir bitterheid en woede oor verspeelde geleenthede en die opsyskuif van drome is daar geen ruimte in Bernie van Wyk se lewe nie.  “Nee,” sê Bernie, “die Here het my lewenspad bepaal.  Indien ek op die skip gewerk het, sou ek nie die geleentheid gehad het om my pa voor sy afsterwe te groet nie en sou ek ook nie my ma in daardie moeilike tyd kon bystaan nie.  Dit was die Here se wil dat ek nie op die boot gaan werk het nie.

“Ek en Iris, my vrou, met wie ek op 21-jarige ouderdom getrou het, het toe maar begin om oor naweke en in ons vrye tyd spyseniering te doen.  Ons het breyani, roti’s en kerrie en al die ander bekende Kaap-Maleise disse vir funksies gemaak.”

Bernie vertel dat dit glad nie vir hom moelik was om afskeid te neem van sy werk by die poskantoor nie.  Net na hy klaargemaak het by die poskantoor, het hy deur ’n meisie wat deur sy ma grootgemaak is, van die werk by die kerk gehoor.  “Die Maandagoggend het ek toe maar ’n draai by die kerk gaan maak en by die destydse koster, Nettie Scholtz, aangemeld.  Ek het sommer dieselfde dag ingeval en nooit weer uitgeval nie,” vertel Bernie laggend.  “Ek onthou die eerste dag toe ek by die kerk ingestap het, het die woorde teen die muur, ons reik uit oor alle grense, my diep getref.  Dit was die eerste keer in my lewe wat ek sulke woorde, of so ’n visie gesien het.

“Dit is vir my baie moeilik om klaar te maak by Stellenberg-gemeente.  Ek moet aftree, maar ek gaan die mense van die gemeente verskriklik mis.  Die mense van die oefengroep, die Bybelstudiegroepe, die koskokers, die rolbalspelers, die VatVyf-groep, die kospakkers en veral die kantoorpersoneel – elke een.  Die uitreike jaarliks was altyd vir my ’n hoogtepunt en ek het so gehoop dat ek net nog een uitreik voor my aftrede kon meemaak, maar Covid-19 het toe al die planne deurmekaargekrap.”

Bernie het die kantoorpersoneel gereeld op ’n spesiale verjaarsdag, of funksie met sy tuisgemaakte disse trakteer.  Hy verkneukel hom wanneer hy vertel hoe ds. Bremer Gericke altyd ’n draaitjie by hom in die kombuis gemaak het wanneer hy weet daar word breyani voorberei.  “Dan sê Dominee vir my: ‘Jong, ou Bernie, is daar nie solank ’n proeseltjie nie?  Gee maar net so ’n klein skeppie in ’n kleinbordjie.  Ek wil nie baie eet nie, want Erna maak ook middagete.’ Dan eet Dominee so eenkant die kleinbordjie leeg,” vertel Bernie terwyl die genoegdoening uit hom straal, “en dan lag Dominee en sê: ‘Jinne ou Bernie, dit lyk my die kleinbordjie is bietjie te min.  Het jy ’n groot bord daar vir my?’”

Die dood van sy lewensmaat en sielsgenoot in Desember 2018 was en is steeds vir hom ’n groot verlies.  “Ons was 41 jaar getroud – ek en Iris.  Ek hou my besig daar by die huis sodat ek nie te veel dink nie, maar dan soms wanneer ek alleen is en dit raak stil om my, dan tref dit ’n mens – die alleenheid en die gemis.  Ek kan nog nie in my en Iris se bed slaap nie.  Ek lê nog so bo-op die beddegoed en gooi net ’n kombers oor my.  Ek kan net nog nie in die bed inklim nie.  Een en veertig jaar was net te lank,” sê Bernie, “ek kan nog nie vergeet nie.”

Oor die afgetrede lewe is Bernie maar baie onseker.  “Ek lê baie wakker in die nag.  Dan bid ek en vra dat die Here vir my ’n nuwe plan sal stuur.  Ek moet iets nuuts vind om my besig en aan die gang te hou en ek glo die Here sal my op ’n nuwe pad lei.  Ek het besluit om ’n paar gaspotte te koop en ’n vrieskas en wil weer begin kook soos ek en Iris altyd gedoen het.  Ek wil roti’s, breyani en kerrie maak en dit dan verkoop.  Ek sal bestellings neem, die geregte voorberei en aflewer. Stellenbergers kan ook bestel, sê Bernie laggend.  Ek sal dit kom aflewer.”

 Die kantoorpersoneel en leraarspan gaan Bernie voorwaar baie mis.  Die grappies, geselsies oor die naweek se rugbywedstryde, die breyani met die tamatie-en-ui-sambal en dan bowenal Bernie se gesindheid, geloof, opregtheid en sy liefde vir mense, wat vir elkeen van ons ’n voorbeeld was.  Ons bid saam met jou vir ’n nuwe plan, Bernie. Kom kuier gereeld. Red.