Gedagte vir die dag | Vrydag 23 April 2021

Psalm 27:1.  Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?

Hoe lyk jou geloof? Kan jy saam met die psalmdigter uitroep: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?  Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?” (vers 1)  Wanneer die viruspandemie my in ’n kluisenaar verander, as ek my werk verloor en nie ander werk kan kry nie, as my bankbestuurder se geduld met my op is, as die grendelstaat my onderneming op sy knieë dwing, as die dokter die laaste reeks toetse optel en sy kop skud.  Wat doen ek dan?

Die psalmdigter sê hier:  Ware gelowiges skrik vir niks, want met God aan jou kant kan niks, of niemand iets aan jou doen nie.  Hy sien selfs vir ’n hele leërmag kans!  Hy sê selfs al begin die aanval, vertrou hy nog.  Maar wat van jou?  Kan jy met hom saampraat?  Of klink dit dalk vir jou nou soos een van daardie mense wat vir jou wil troos en sê: “Man, jy moet net glo en vertrou, dan sal dit regkom. Jy sal sien.” En jy probeer glo en jy probeer vertrou, maar dit kom nie reg nie. En dan wonder jy later of jy dan reg glo, of jy genoeg vertrou.

Geloof is nie sonder vertwyfeling nie. Om gelowig te wees, beteken nie om nooit angstig, of bekommerd, of bang te wees nie. Om die waarheid te sê, nood en vertwyfeling was vir die mense van Bybelse tye net so deel van die lewe soos wat hulle geloof was. Hulle was ook bang, hulle het ook soms getwyfel,

Om ’n opregte gelowige te wees, beteken nie om sonder probleme, sonder krisisse en sonder nood te lewe nie. Die feit dat jy in God glo, neem nie al jou probleme in ’n oogwink van jou af weg nie.  Maar ons het die troos dat ons iemand het om by te skuil, wat ons vashou en wat ons help dra.  Weet vandag dat jy nie alleen is nie.

GEBED

Gewer van genade, ek smeek U om u genade in my in stand te hou, want dit is vir my moeilik om my geloof uit te leef. Versterk my teen versoekings. Die uitdagtings van die lewe tref my en ek kan nie staande bly nie. Ek het U nodig.

Amen