Gedagte vir die dag | Woensdag 21 April 2021

Eksodus 33:14-15.  14Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” 15Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.”

 

Daar is ‘n bekende Nederlandse spreuk wat lui: “Van het concert des levens krijgt niemand ’n program”.  Dit verwoord die vanselfsprekende waarheid dat ons nie weet wat die toekoms vir ons inhou nie.  Niemand weet immers wat op die lewensreis vir hulle as indiwidue, of as gesin, of as kerk voorlê nie.  In die lig van hierdie onsekere karakter van die lewe, gebeur dit dat mense deur die eeue vrae gevra het soos:  Wat bied vir ons ‘n anker te midde van die onsekerheid en onstuimigheid van die lewe?  Of:  Waarin lê ons diepste geborgenheid te midde van al die persoonlike, sosiale en kosmiese katastrofes wat ons van hoor of beleef?”

Ons as gelowiges weet dat ons diepste geborgenheid nie in materiële welvaart, of in sukses, of by ander mense lê nie, maar in God self.  In sulke onseker tye ontdek ons dat ons aan God kan vashou – of eerder: dat Hy ons vashou.  Dan beleef ons wat gelowiges dikwels bely, naamlik dat God daar is vir ons as ons Hom nodig het.  Ons kan weet: te midde van die onsekere en brose aard van ons lewens het ons ’n goddelike reisgenoot op wie ons kan staatmaak.

Gebed

Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.

Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.

Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.

Die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val.

Die Here is rondom jou om jou te beskerm.

Die Here is bokant jou om jou te seen.

Die Here is in jou om jou te lei met sy Heilige Gees.

Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.

Amen.