Johannes 21:8-19. 8Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep. 9Toe hulle aan land kom, sien hulle ‘n vuur brand en ‘n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook. 10Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.” 11Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. 12Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.” Nie een van die dissipels het sover gekom om vir Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het geweet dat dit die Here is. 13Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis. 14Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is. 15Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.” 16Jesus vra hom weer ‘n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op.” 17Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?”, en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei. 18Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.” 19Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!”
Jesus se verskyning aan Petrus, net soos Jesus se ander opstanding verskynings, vertel vir ons presies wat God se prioriteite is. In die dae na sy opstanding hou Jesus hom nie besig met wraak en vergelding nie. Hy wreek homself nie op Pilatus of straf die soldate wat hom gekruisig het nie. Jesus spandeer sy tyd om sy vriende te voed, te versterk en te herstel. Hy noem Maria op die naam terwyl sy huil. Hy offer dat Thomas aan sy wonde vat. Hy braai vis en brood vir sy honger dissipels en herstel die verhouding tussen hom en Petrus.
Jesus fokus op verhoudings. Op rekonsiliasie. Op liefde. Voor sy Hemelvaart spandeer Hy die meeste van sy tyd om sy vriende se vrees, verlamming en hartseer aan te spreek en weg te neem. Jesus is glad nie besig met ’n triomfanklike oorwinning nie, maar kies nederigheid. Hy kies om ’n eerlike en weerlose vraag vir Petrus te vra, selfs as die antwoord Hom dalk kan seermaak. Hy kies om sy skape te versorg en lief te hê. Petrus se skaamte ontmoet Jesus se genade, en Jesus se genade wen. Dit in ’n neutedop – is die Evangelie.