Johannes 20:11-18. 11. Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12. Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13. Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.” 14. Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15. Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.” 16. Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester. 17. Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ” 18. Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.
Johannes se oorvertelling van hierdie gebeure is anders as die ander sinoptiese evangelies. Hy skryf dat Jesus by Maria is na sy opstanding en dat sy direk met Hom in kontak kom na Hy opgestaan het. As ’n tiener het ek my pa aan pankreaskanker verloor. Ek het ook as ’n tiener ongelooflik baie foute gemaak, maar ek sal nooit spyt wees oor my foute nie, want dit het my ook baie geleer.
Elke keer as my susters van my foute te hore gekom het, het hulle vir my gesê: “Hanno, wat sou Pa nou hiervan gesê het?” of “Wat sou jou pa nou aan jou gedoen het?” Dit het nooit vir my waarde gehad nie tot die dag wat ’n professor in die Teologiese fakulteit van Pretoria vir my gesê het: “Die evangelie is soos bladmusiek, as jy dit nie speel nie, is dit niks meer as leë note op ’n stuk papier nie”. Hierdie woorde het my laat dink aan my pa en wat hy vir my geleer het. As ek nie my pa se waardes en karakter in my lewe uitspeel nie, dan is hy nog steeds dood . . . maar as ek dit speel en deel maak van my bestaan dan lewe my pa in en deur my.
Ek dink dit is ook die wyse waarop Maria aan Christus vasgeklou het. Ons soek die woorde op die papier sodat ons van tyd tot tyd daarna kan verwys of dit kan lees. Christus wat vir Maria sê: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie.” Dit is juis hierdie realiteit: Dat ons op staan wanneer ons dit leef en dit nie noodwendig tasbaar hoef te voel nie.
Maria en die dissipels moes leer om die bladmusiek van Jesus te speel sonder om Hom by hulle te hê, dit was sekerlik ’n moeilike uitdaging, maar hulle het reeds die note ontvang en daarom vra Jesus dat Maria nie fisies aan Hom moet vashou nie.
Gebed:
Here, dankie dat ons tydens die onsekerheid van die pandemie weet dat U hier is deur hoe ons leef en hoe ons die musiek van u koninkryk in ons alledaagse lewens laat deurbreek. Dankie dat U nie vir ons ’n goedkoop fisiese antwoord kom gee het wat net werk in ’n sekere konteks, of tyd nie, maar dat ons U nou hier by ons het in die wyse hoe ons u Koninkryk se waardes uitleef.
Mag jy opstaan sonder fisiese goedkoop antwoorde, maar met note wat jou lei om musiek te kan maak in elke konteks en die evangelie te beleef in die hier en nou.