Gedagte vir die dag | Sondag 11 April 2021

Lukas:24:1.  Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. 2Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; 3en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. 4Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan. 5Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? 6Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was 7en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.” 8Toe het hulle sy woorde onthou 9en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel. 10Die vroue was Maria Magdalena en Johanna en Maria die ma van Jakobus. Ook die ander vroue saam met hulle het dieselfde dinge aan die apostels vertel. 11Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie. 12Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy daar vooroor buk, sien hy net die doeke. Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

Dit is moeilik om in tye van krisisse die groter prentjie rakende gebeure raak te sien. Dit is juis omdat ons in tye van onsekerheid soveel goed het om aan te dink. In sulke tye trek die lewe ’n mens in verkillende rigtings en dan weet ons nie waar om vas te hou, of waar ons moet laat los nie. Die vraag is dan waaraan hou ons vas wanneer dinge moeilik gaan?

Dit is interessant hoe Lukas die opstanding beskryf as iets wat van selfsprekend moes gebeur. Dit is asof die twee manne met die blink klere aan die vroue weer bewus wil maak van die groter prentjie. Hulle vra die vroue: “Waarom soek julle die lewende by die dooies . . . onthou julle dan nie”.  Dit is interessant hoe die mees ondenkbare persone, naamlik die vroue, die groep is wat die groter prentjie eerste raak sien. Iemand soos Petrus kon dit nie eens glo nie en moes terug hardloop na die graf toe om self te sien dat die vroue die waarheid vertel.

Peter Scazzero die skrywer van die boek “Emotionally Healthy Spirituality” skryf dat emosionele volwassenheid ook die vermoë inhou om te midde van die onsekerheid van die lewe nie na strooihalms te gryp nie, maar om gefokus te bly op dit wat werklik saak maak.

Binne die gang van die lewe gryp ons na goedkoop en maklike oplossings.  Fopnuus het dit ook maklik gemaak om in vandag se wêreld na valse inligting te gryp. In tye van krisis leer God ons dat ons die groter prent moet soek en om vorentoe na dit te beweeg. Die beste voorbeeld hiervan in ons onmiddellike konteks is die teenstand wat oor die wêreld heen rakende inenting ontstaan het.  Ons kan so maklik opgesweep raak oor geestelike idees dat die inenting byvoorbeel die “merk van die dier” is.   Sulke idee saai verdeeldheid en laat ’n mens dikwels vergeet dat God se hart (die groter prentjie) die vereniging en herstel van die seer van die Covid-19-pandemie sal wees. Dít is die groter prentjie waaraan ons kan vashou.

Gebed:

Here, ons besef soms dat ons gryp na leë antwoorde binne ’n onsekere wêreld, maar ons dank U dat U vir ons die vermoë gee om te midde van die onsekerheid met ’n groter prent op te staan. Die prent van herstel, eenheid en geregtigheid, omdat U seun dit vir ons aan ’n kruis kom wys het. Mag ons aan U hart vashou te midde van die onsekerheid van die pandemie.

Mag jy in hierdie tyd die hart van God sien en daaraan vashou eerder as die leë beloftes wat ons so angstig oor die toekoms maak.  God help ons om met ’n groter prent op te staan.