Johannes 21:15. Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.”
Hierdie teks het afgespeel nadat Jesus se dissipels na Galilea toe teruggekeer het. Terug na die normale roetine van hulle lewens. In Petrus leef die skuldgevoel dat hy Jesus verloën het. Op die plek, waar die gebeurtenis afgespeel het, langs die see van Galilea, staan daar vandag ’n pragtige beeld van Jesus met sy hand uitgestrek oor Petrus wat voor hom kniel. Dit herinner ons vandag aan God se verbintenis om ons gebroke menswees in ere te herstel. God se liefde is sterker as die foute van die verlede en die skuld wat ons in ons saamdra. Ervaar hoe die Here jou vandag help om bo die gebeure in jou verlede uit te styg en om opnuut ’n betekenisvolle lewe te vind. Die gebrokenheid van die verlede het jou nie gebreek nie. Dit het jou wel ’n paar kosbare dinge oor die lewe geleer.
Gebed
God van liefde ek aanbid U. U verleen luister aan my sonde-ontsierde gelaat; U hou aan vorm aan die wederstrewige klei van my lewe; uit die chaos van my dae skep u harmonie en vrede. God, ek verwonder my oor U. God van liefde, ek aanbid U.