Lukas 24:30-31. “Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn.”
Ek het dikwels gewonder of ek vir Jesus sou herken indien hy by my in die straat verby sou stap. Volgens die Bybel is daar niks aan Jesus se gelaatstrekke wat hom anders gemaak het as enige ander man op straat nie. Tog, is mense diep geraak deur sy woorde. Dit bly vandag vir my ’n goeie beskrywing wat met ons gebeur. Ons het geen idee hoe God lyk nie, maar wanneer ons sy stem op ’n verskeidenheid maniere hoor gaan ons oë oop om mense en die wêreld opnuut raak te sien. Hoe hoor jy die Here se stem in hierdie tyd? Wat is dit wat jy begin sien en waartoe dring dit jou? Moenie toelaat dat insigte in jou alledaagse roetine ongemerk by jou verby gaan nie. Reageer daarop sodat ander om jou ook die seën van God se teenwoordigheid mag beleef.
Gebed
U het die brood gebreek, eens by die meer; breek nou die lewensbrood vir my o Heer! U beeld straal uit die Skrif, so helder voort, U soek ek, Heer, Uself, O lewend Woord!