Gedagte vir die dag | Sondag 4 April 2021

Matteus 28:5.  “Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moenie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het.”

Die Here het opgestaan. Hy het waarlik uit die dood opgestaan. In hierdie enkel en eenvoudige sin lê daar soveel betekenis opgesluit. Onder die eerste gelowiges het daar op hierdie dag ’n gebruik ontstaan om weekliks op hierdie dag vroeg soggens bymekaar te kom sodat hulle die betekenis van Jesus se opstanding kon vier. Christus het nie net iewers een keer in die verre verlede uit die dood verrys nie. Ons word herinner dat hierdie historiese gebeurtenis keer op keer weer opnuut in ons lewe herhaal word. Dink aan al die Sondae in jou lewe en wees dankbaar vir die eenvoudige realiteit waarin jy weekliks kan deel en waarmee jy elke nuwe week kan ingaan.

Gebed

Hoor jy die Paasfees klokke? Hul lui van vroegdag af; hul jubel oor die wêreld: Die Heer is uit die graf! Hy, Christus die oorwinnaar, is uit die donker uit! Die Heer, die sleuteldraer, sal ook my graf ontsluit.