Gedagte vir die dag | Woensdag 31 Maart 2021

Jesaja 53:1 en 5. Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?  Wie sal die mag van die Here hierin kan sien? Hy was verag en deur mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie geken nie.”

Ons teksgedeelte is geskryf in die tyd van die Babiloniese ballingskap toe gelowiges uitgelewer was aan politieke magte en kragte waaroor hulle geen beheer gehad het nie en wat hulle lewens en wêreld ingrypend kom verander het. Die groot uitdaging vir ons as gelowiges word vandag in hierdie een reguit vraag opgesom: Wie sal die mag van die Here hierin kan sien?  Ek hoor dikwels gelowiges die volgende sê. God sal vir ons ’n “uitkoms” bied of ’n “deurbraak” bewerk. Ons kyk dikwels net in een rigting – na beter uitkomste waarin ons glo of hoop. Of dan vergeestelik ons die uitkoms in ’n poging om getroos te word. Dié dat ons dikwels sukkel om God se mag in ons leefwêreld te sien.

Ons teksgedeelte bied vandag ’n geweldige troos. Dit vertel oor God wie se eie lyding op ’n onverwagse wyse in ons eie lewens uitspeel.  Amper soos wat Paulus in 2 Kor. 12 ervaar het toe hy tot die besef gekom het dat “wanneer ek swak is, is ek sterk”. God se genade werk juis dieper in ons wanneer ons swak is. Dit is so waar. Ons geloof is juis vir tye soos hierdie ontwerp.

Gebed

O Here, almagtige God, Heerser oor die wêreld, selfs toe die aarde nog woes en vormloos was, was U die koning van die heelal, en wanneer alles wat bestaan tot ’n einde kom, sal U steeds regeer. U is die allerhoogste waartoe ons denke in staat is; niks kan u wese en wysheid ewenaar nie; daar bestaan niks wat met U vergelyk kan word nie.  Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid. Daar is geen begin of einde van enigiets sonder U nie.