Gedagte vir die dag | Dinsdag 30 Maart 2021

Lukas 23:20-21. 20 Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat, het hy weer met hulle gepraat, 21 maar hulle het aanhoudend uitgeroep: “Kruisig, kruisig, hom!”

GEDAGTE

Tydens Jesus se verhoor voor die Joodse Raad is daar net twee vrae aan Hom gevra: “As jy die Christus is, sê dit vir ons,” en “Dan is jy die Seun van God?”  Op verskillende maniere het Jesus hierdie vrae bevestigend beantwoord.  Daar was geen getuienis gelewer nie – dit was egter die volle omvang van die verhoor.  ’n Verhoor deur die mees godsdienstige mense van daardie tyd in Palestina.

Omdat die Romeine oor Palestina regeer het, kon die godsdienstige leiers niks aan Jesus doen nie.  Hulle moes Hom na Pilatus, die goewerneur neem.  Op grond van hulle verhoor lê hulle toe ’n klag van ophitsing teen Jesus: “Ons het bevind dat hierdie man die volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning is.”

Dit was duidelik leuens deur hierdie godsdienstige leiers wie se verhoor volledig oor die identiteit van Jesus gegaan het.  Hulle het egter hulle godsdienstige besware teen Jesus in politieke terme vertaal, sodat ’n heidense goewerneur vir Jesus skuldig sou bevind. Dit het egter nie gewerk nie. Pilatus bevind Jesus onskuldig aan hierdie klagte en stuur Hom na koning Herodus toe. Herodus was baie bly om Jesus te sien, maar nadat die skrifgeleerdes en priesterhoofde heftig reageer het, stuur Herodus vir Jesus sónder om Hom skuldig te bevind terug na Pilatus. Wéér bevind Pilatus vir Jesus onskuldig. En wéér raak die volk opstandig, “Kruisig, kruisig hom!”

Jesus word effektief vermoor omdat Hy gestaan het by wie Hy was: Messias. Seun van die mens. Seun van God.  Maar dis gelowige mense wat met blatante oneerlikheid probeer om Jesus ter dood veroordeel te kry deur vals klagtes.  Vals klagtes wat nie eens die goewerneur en koning van Palestina kon oortuig nie. Hierna wend hulle hulleself tot opruiende optrede – presies dít waarvan hulle Jesus valslik beskuldig het.  En dié keer slaag hulle.

Hoe ver is ons bereid om te gaan om ons eie verstaan van die waarheid te beskerm? Leuens? Geweld? Hoe swaar weeg ons waarheid vir ons? Of is ons waarheid die liefde: sag en genadig soos God?

GEBED

“Laat, Heer, u vrede deur my vloei…
waar haat is, laat ek daar u liefde bring.
Laat ek in pyn en smart vertroostend wees en krag gee deur geloof in U, o Heer.

O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag,
ja, om lief te hê – ander bo myself – en ook eerder te gee as te verwag.

Laat, Heer u vrede deur my vloei…
en laat ek hoop gee waar daar twyfel is.
Ek wil u lig in duisternis laat skyn.
Laat ware vreugde altyd uit my straal.

Laat, Heer, u vrede deur my vloei…
leer my om ook soos U te kan vergeef.
Maak my bereid om aan myself te sterf,
dat ander U al meer in my kan sien.”

Amen