Mat 26:27. “Toe neem Hy ’n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: ‘Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.’ “
GEDAGTE
Daar is ’n gedig deur Izak de Villiers wat die rol van wyn by die viering van die Nagmaal só mooi uitdruk, dat ek dit hier volledig hier vir nadenke wil weergee.
Heildronk (Uit: Vervreemdeling, Tafelberg: 2008) *
Rondom die Pêrel is wingerde en berge,
groter, groen- en blouer as Jerusalem,
en ná die winterreën drup dae oor die nat graniet,
helder soos porselein wat uit diep, warm seepskuim kom,
met blinkheid soos Boheemse rieslingglase van kristal
in sagte lig op winkelrakke by die Karelsburg in Praag:
dié helderheid rúik selfs na pasgeblaasde glasbokale,
kleurig na die smaak van ouerige toeriste op Murano.
Ek kom uit daardie aarde van eike en olienhout,
van diamantdae en ‘n rivier wat kronkel deur rye wingerde –
blaremanteldraaiers na die stand van die seisoene –
daar waar ‘n mosgeur elke somerse herfs oor wit kelders hang.
Ek sal weer teruggaan, na die geil aarde van Klein-Drakenstein,
langs die landgoed van Nederburg waar wyn geproe word
uit die blink kelke. En die groot granietberg sal glinster
soos ek deel word van die daegang, vergroeid in eik en wingerde –
heel moontlik opgesuig word in die sap van druiwe.
En iets van my, ek, sal saggies in ‘n glas geskommel word:
vermeng met die geure van God van die wonders en wingerde,
en Jesus sal weer wyn kom maak, my proe soos by die bruilof,
sy kop effe skud oor die veel vaste suur, maar tog ’n vrugtesmakie kry
- appelkoos en nartjies en olyf – en dink aan die dae in Kapernaum,
- aan sy vriende by ’n meer met waters wat wink in die Palestynse son.
Hy sal my bewaar in sy gedagtes soos die Katedraalkelder –
dalk vir ‘n Pêrelse heildronk met dienende engele
op ’n hemelse kristaldag.
- In 2009 het ek die voorreg gehad om vir Izak de Villiers te ruste te lê in ’n privaat begraafplaas, te Klein-Drakenstein.
GEBED
“Here, dankie dat U Uself só kom uitgiet het in ons lewens, soos wat ons die wyn uitgiet wanneer ons die Nagmaal geniet. Giet ons só uit, Here, as offers vir U, vir mekaar en vir die wêreld.” Amen.